|

Rustenburg-tak vul slaggate op

AfriForum se Rustenburg-tak het op 27 Maart begin om verskeie slaggate op die hoek van Watervallaan en Lucasstraat op te vul, ongeveer ’n halwe ton teer is hiervoor gebruik. Dit volg nadat die gemeenskap die tak genader het om die gate op te vul om sodoende die veiligheid van motoriste te verbeter.

Die landboumaatskappy Obaro het die teer geborg, Coastal Hire Rustenburg het die padroller en betonsaag verskaf en Sebetsa Trading het vir verversings gesorg. Alhoewel al die slaggate nog  nie opgevul is nie, gaan dit reeds ’n reuseverskil in die gemeenskap maak.

Beplanning om die oorblywende slaggate op te vul is in die pyplyn en die gemeenskap en plaaslike ondernemings word uitgenooi om betrokke te raak deur ’n bydrae te lewer of teer te borg. Vir meer inligting skakel Armand Viljoen by 081 217 6568.

“Dié area is deel van die industriële gebied en dít is waar die dorp se geld vandaan kom, dus moet die paaie in ’n goeie toestand wees en deurgaans onderhou word. Daarom moedig ons ondernemings in die area aan om ons te help hetsy finansieel of deur teer te skenk,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

Word vandag nog deel van die oplossing en sluit by AfriForum se Rustenburg-tak aan: SMS “Rustenburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings