|

SA gaan in 2020 steeds onder waterkrisisse steier

Suid-Afrikaners gaan hul vanjaar weer moet staal teen die een waterkrisis na die ander.

Dis maar die begin van Januarie en oral duik berigte van waterprobleme in klein dorpies sowel as stedelike gebiede op.

In die jongste voorval het inwoners van Sundra, Eloff en Rietkol in Mpumalanga nie toegang tot water nie. Inwoners kla dat sekere gedeeltes van die dorpe vir weke aaneen nie water het nie. Hulle is ook keelvol vir die munisipaliteit se verduideliking dat ’n verouderde pypleiding glo aanhoudend bars en vir probleme verantwoordelik is.

Verlede week was sekere gedeeltes in die ooste van Pretoria ook vir lang tye sonder water weens gebarste pype.

Benewens beurtwater of geen water in talle dorpe, is daar ook knaend probleme met die gehalte van water. Verlede week is berig dat drinkwater in Winburg en Kroonstad weens rou riool en dierekarkasse besmet is. Volgens ’n DA-raadslid vir Masilonyana, wat Winburg, Theunissen en Brandfort insluit, is die rioolsuiweringspompe al drie jaar buite werking.

Parys in die Vrystaat het ook ’n voortslepende probleem met die drinkwatergehalte in die dorp. AfriForum het vroeër selfs ’n dringende hofbevel gebring wat versoek het dat die munisipaliteit onmiddellik aandag aan die swak gehalte van kraanwater moet gee en dat die inwoners binne ’n maand toegang tot skoon water moet hê. Die regter het die saak egter nie as dringend beskou nie en die saak van die rol verwyder – ten spyte daarvan dat daar steeds fekale kolivormige bakterieë en wurms in die water voorkom.

Ook in die Oos-Kaap is tot drastiese stappe oorgegaan om beurtwater in die Chris Hani-distrikmunisipaliteit in te stel. Die jongste probleme wat aangemeld is, raak Queenstown, Butterworth en Grahamstad.

Terwyl munisipaliteite versuim om hul plig na te kom om gehalte drinkwater aan inwoners te voorsien of infrastruktuur op te gradeer, moet inwoners self uitspring en planne beraam. Dit gaan vanjaar weer hul lot wees. Diegene wat dit kan bekostig, koop drinkwater, terwyl ander afhanklik is van die welwillendheid van boere en inwoners met boorgate.

Daar is geen aanduiding dat die ANC-regering by magte of bevoeg is om die waterkrisis landwyd op te los nie. Inwoners moet hul maar gereed maak dat hulle vanjaar weer vir lang periodes nie water sal hê nie of afhanklik sal wees van water wat met tenkwaens aangery word.

In die lig van hierdie voortslepende krisis, sal diegene wat dit kan bekostig dit ernstig moet oorweeg om watertenks aan te skaf waarin reënwater opgevang kan word.

Soortgelyke plasings