|

SA soldate met AfriForum Springbok Vasbyt vereer

Hardlopers en stappers van regoor die land het die naweek byeengekom om kragte te meetby die AfriForum Springbok Vasbyt-wedloop wat deur AfriForum en die Voortrekkermonument Atletiekklub aangebied is.

Dié unieke wedloop word sedert 2006 aangebied en herdenk elke jaar ʼn spesifieke slag waar die Suid-Afrikaanse weermag betrokke was met die doel om Suid-Afrikaners wat regoor die wêreld onder die Springbok-embleem begrawe is, te vereer.

Deelnemers kon aan ʼn 5 km-pretdraf deelneem of die meer uitdagende 10 km- of 25 km- wentelwedloop aandurf.

Leon Bezuidenhout, organiseerder van dié geleentheid, het gesê die byeenkoms se wentelwedloop is veral uitdagend en daarop gemik om deelnemers uit hul gemaksone te haal.

“Ons wil deelnemers konfronteer met die natuur, waar jy eerder deur stof as motors se uitlaatgasse hardloop. Ons probeer innoverend wees en mense boei deur hulle die gevoel te gee dat hulle by ʼn unieke gebeurtenis was en nie net ʼn gewone wedloop nie”.

Vanjaar is Die Slag van Delvillebos, wat tussen 15 – 21 Julie in 1916 geduur het, herdenk.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914, is Suid Afrikaanse troepe na verskeie plekke in die wêreld gestuur. As deel van die Slag van die Somme in Frankryk, het die Eerste Suid-Afrikaanse Infanterie Brigade, deel van die Skotse 9 de Divisie geword.

Volgens Bezuidenhout sou dit hul taak word om Delvillebos en die aangrensende dorpie, Longueval, in te neem en te behou. Vanaf 15 Julie 1916, sou die Suid-Afrikaners in ʼn verbete stryd met die Duitsers wees. Van die 3 600 Suid-Afrikaners wat die Bos sou ingaan, het slegs sowat 700 na ses dae en vyf nagte teruggekeer. Die wedloop het vanjaar onbekende troepe soos die Afrikaanse “Skot” Willem Groenewald wat in Frankryk begrawe is vereer, het Bezuidenhout gesê.

“Ons wil vir hê mense moet tydens die wedloop, soos die Suid-Afrikaanse soldate, leer vashou, vasbyt en deurdruk tot die einde toe.”

Soortgelyke plasings