|

Saamleef met die geskiedenis

AfriForum praat dikwels oor die noodsaak daarvan om ons geskiedenis te bewaar omdat die spore van die verlede ons ankers in die hede word.

In die praktyk is dit egter soms moeilik om hierdie spore sinvol te bewaar. Die area waar dit geleë is, mag dalk gevaarlik vir besoekers word, of sodanig verander, dat dit nie meer vir die besoeker se ervaring sorg wat aanvanklik bedoel is nie ‒ wat eens veld was, mag nou ’n dig beboude area wees.

Dan is daar ook die koste van bewaring. Die Duitse skrywer, Siegfried von Vegesack, het byvoorbeeld verlief geraak op die gebouekompleks van die Weissenstein-kasteel in Bavaria. Oplaas het die restourasie daarvan hom soveel gekos, dat hy dit die “Fressende Haus” (Vretende Huis) genoem het – ’n sentiment waarmee enige eienaar van ’n ou huis sou kon assosieer.

Soms is die ontwerp van geboue net te onprakties vir herbruik. In onder meer Stellenbosch en Dublin, het argitekte al merkwaardige planne gemaak om ou geboue se fasades (voorkant) te behou, maar ’n moderne gebou met ander gebruik daaragter op te rig.

Soms word ’n volskaalse monument opgerig, maar daarvoor is ruimte en begroting, asook onderhoud nodig. Hoe gemaak wanneer jy derduisende mense in herinnering wil roep? In Europa is die Stolperstein-projek ’n mooi voorbeeld van herinnering en die soomlose saamleef met die verlede. Stolpersteine, oftewel struikelstene is 10 cm betonkubusse wat elk ’n koperplaat op het met die name van persone wat deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog vervolg en uitgewis is. Dit sluit Joodse slagoffers van die Holocaust, Sinti, Romani en ander vervolgdes in. Die projek is deur die Duitse kunstenaar Gunter Demnig in 1992 van stapel gestuur en herdenk die individue by hulle laaste plek van verblyf. Daar is al meer as 75 000 van die stene gelê.

Verder terug in die geskiedenis, is die name dalk al vergete, maar argeologiese fondse herinner ons steeds aan die mense wat voor ons op ’n sekere plek gestaan het. In Dublin wys spesiale plaveistene waar Viking-fondse opgegrawe is en wat dit was.

In Suid-Afrika bly die uitdaging eienaarskap. Onlangs is ons bewus gemaak van die verkope van heelwat historiese gedenkwaardige eiendomme, onder meer ’n deel van Paul Kruger se plaas Boekenhoutfontein en A.G. Visser se huis in Steytlerville.

Om te verseker dat die eiendomme in die hande van iemand beland wat die historiese waarde daarvan gaan besef en dit sal koester, is ’n groot uitdaging. Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) wat ten doel het om gedenkwaardighede soos hierdie te bewaar, se impak is klein. Dikwels verontagsaam mense bloot erfeniswetgewing en wanneer SAEHA daarvan uitvind, is dit te laat om die gedenkwaardigheid te red. Ons hoop dat hierdie twee eiendomme tog simpatieke nuwe eienaars sal vind.

Vir historici, argeoloë en argitekte is die “dood” van ’n ou gebou altyd hartseer, maar dat alles nie bewaar kan word nie, is ’n werklikheid. Veral met geboue moet verskeie aspekte in ag geneem word voordat restourasie aangepak word.

Noodsaaklike vrae as jy ’n ou gebou probeer red of wil koop:

  • Is dit bewarenswaardig omdat dit uniek is, of ’n interessante geskiedenis het? Byvoorbeeld die twee eiendomme wat ons bo noem se verbintenis met onderskeidelik Paul Kruger en A.G. Visser dra by tot hulle historiese waarde.
  • Aan wie behoort dit tans?
  • In watter toestand is dit?
  • Hoeveel gaan dit kos om dit te beveilig en bruikbaar te maak?
  • Waarvoor kan dit aangewend word en is dit ’n volhoubare doel?
  • Leen die omgewing hom tot so ’n doel? Byvoorbeeld: ’n Gastehuis in die middel van ’n verlate industriële gebied gaan nie werk nie.
  • Wie gaan vir die restourasie en die instandhouding daarna verantwoordelik wees?

Ten spyte van al die uitdagings, is die aanpak van so ’n restourasieprojek ’n avontuur wat groot vreugde en bevrediging kan bring. Daarvan getuig Siegfried von Vegesack se lewensverhaal ook. Op sy versoek is hy saam met sy honde in die gronde van sy Vretende Huis begrawe.

Wanneer redding nie meer ’n opsie is nie, moet die oorblyfsels van die gebou en alle inligting in verband daarmee so volledig as moontlik opgeteken, gefotografeer, indien moontlik geskandeer en bewaar word om darem iets daarvan te behou. So kan ons geskiedenis lewendig hou, al is dit dan soms net met virtuele wortels.

Soortgelyke plasings