|

Nuuskommentaar: Is daar iewers meer leiers soos hoofregter Raymond Zondo?

’n Mens kan tereg wonder waar die land sou gewees het as daar nie die afgelope paar jaar iemand soos hoofregter Raymond Zondo op die toneel verskyn het nie.

Zondo is in Maart verlede jaar deur president Cyril Ramaphosa as hoofregter van die Konstitusionele Hof aangewys. Voor dit was hy in die amp van adjunkhoofregter.

Zondo het homself in die afgelope maande bewys as iemand wat polities onafhanklik dink en nie enige voorkeure het nie. Hy maak sonder vrees of vooroordeel bevindings en beslissings.

Hy het met sy hantering van die kommissie van ondersoek oor staatskaping bewys hy is nie bang om indringende vrae te vra nie, ongeag die posisie of status van hoëprofiel politici wat voor hom verskyn het. Hy het diegene wat by beweerde korrupsie betrokke is uitgewys en selfs aanbeveel dat hulle verder ondersoek en vervolg moet word. Hy het gewys hy is nie bang om teen korrupsie op te tree nie én dat hy aan die kant van die reg en die Grondwet is. Hy het ook ferm standpunt teen kaderontplooiing ingeneem en in sy staatkapingsverslag gesê dit is ongrondwetlik en onwettig.

Helaas kan dieselfde nie van Ramaphosa en kabinetslede gesê word nie.

Ramaphosa se aansien as president het reeds so getaan dat hy vir talle Suid-Afrikaners niks anders as ’n oninspirerende, ruggraatlose,  pratende leier geword het nie.

Daarteenoor skroom Zondo nie om ongewilde besluite te neem en uitsprake te maak nie. Selfs tot só ’n mate dat die EFF, ANC-ministers asook Jacob Zuma en sy faksies geen geheim daarvan maak dat hulle hom met afsku bejeën nie.

Julius Malema, leier van die EFF, het Zondo al daarvan beskuldig dat hy faksioneel is en Ramaphosa ondersteun. Hy het hom by geleentheid al beledig en gesê hy is ’n regter sonder ’n brein.

Zuma op sy beurt het Zondo al van oneerlikheid beskuldig. Hy het gesê Zondo se aanvalle op hom is vernederend, onregverdig en benadelend. Zondo het onder meer teen Zuma uitgevaar toe hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te verskyn. Dit het uiteindelik tot sy skuldigbevinding aan minagting van die hof gelei.

Zondo is ook uitgekryt toe hy in November verlede jaar beslis het dat Janusz Walus, veroordeelde moordenaar van die SAKP-leier Chris Hani, op parool vrygelaat moet word.

Hani se weduwee het teen Zondo uitgevaar en gesê hy het die land gefaal.

Ondanks al die kritiek teen hom bly Zondo koelkop en kalm.

Hy het gesê 15 jaar het reeds verloop sedert Walus vir die eerste keer vir parool in aanmerking gekom het. Hy het beslis Walus het die familie verskeie kere om verskoning gevra en dat hy ’n skoon rekord gehandhaaf het in die meer as 25 jaar in die tronk. 

Zondo se verbintenis tot geregtigheid en gelykheid voor die reg het ook weerklank gevind in sy uitspraak verlede week teen die Departement van Toerisme. Hy het die departement se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys nadat Solidariteit en AfriForum die departement voor die hof gedaag het oor sy raskriteria vir die Toerisme-ekwiteitsfonds. Die fonds sou net toelaes en lenings toegestaan het aan ondernemings wat minstens in 51% swart besit is.

Gegewe hofuitsprake en beslissings soos hierdie is daar waardering vir Zondo en kan ’n mens maar net hoop dat meer eerbare leiers soos hy na vore sal tree.

Soortgelyke plasings