|

SAPD, Departement en NVG se versuim lei tot verdere en voortgesette mishandeling van baba

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag in skrywes aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die SAPD geëis dat die saak van die mishandeling van ’n vyf maande oue baba onmiddellike aandag geniet om verdere trauma vir dié slagoffer te voorkom. Dit volg nadat die eenheid verlede week twee dokters en ’n maatskaplike werker bygestaan het met die indien van strafregtelike klagtes van poging tot moord.

Dit het egter onder die eenheid se aandag gekom dat die polisie sedert die indiening van die klag verlede week nog glad nie opgetree het nie. “In plaas daarvan om die verdagtes in hegtenis te neem, hou die SAPD hulle tans besig met die oorplasing van die saak van stasie na stasie en eenheid na eenheid. Hierdie optrede dui daarop dat die regering se openbare stellings dat sake teen die kwesbares in ons gemeenskap geprioritiseer moet word, bloot lippetaal is,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Dokters het reeds in April 2020, toe die baba vyf weke oud was, klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer by die polisie aanhangig gemaak nadat sy opgeneem is met beserings wat strook met erge voortdurende mishandeling (insluitend gebreekte ribbes). Die Departement het (volgens inligting aan AfriForum verskaf) in April besluit om die baba tydelik in haar ouma se sorg te plaas waarna sy weer op 1 Mei na haar ouers teruggekeer het. Dít ten spyte van die feit dat die vader van die baba as ’n verdagte, wat moontlik die mishandeling gepleeg het, in die hof verskyn het.

Mediese bewyse toon dat die verdere frakture wat die baba opgedoen het nadat sy weer in Julie vanjaar in die hospitaal opgeneem is, waarskynlik opgedoen is terwyl sy in haar ouers se sorg was. Daar het ook familielede na vore gekom wat AfriForum van relevante inligting oor die ouers voorsien het.

Volgens adv. Nel is die afwesigheid van beslissende optrede deur owerhede in hierdie geval onverskoonbaar. “Die enigste afleiding uit die beskikbare feite is dat die Departement, SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag moontlik deur hulle gebrek aan optrede hierdie weerlose kind blootgestel het aan verdere lewensbedreigende mishandeling en ons eis nou dat hulle hul mandaat nakom en in die beste belang van die kind optree. Die aanklaer se redes vir die besluit om die saak teen die ouers vir aanranding met die opset om ernstig te beseer in April 2020 te laat vaar, is skokkend. AfriForum sal daarom alles in ons vermoë doen om te verseker dat die skuldiges verantwoordelik gehou word vir hul dade.”

Soortgelyke plasings