|

SAPD moet Malema, Shivambu en die EFF as georganiseerde misdaadonderneming ondersoek

Die beplande en herhaalde misdrywe van bedrog, korrupsie en geldwassery wat die EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu na bewering gepleeg het, mag moontlik voldoen aan die vereistes vir rampokkery soos dit in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) vervat is. Dít is die kruks van AfriForum se bewering  in die kriminele klag wat vandag by die Sandton-polisiestasie ingedien is. Die burgerregteorganisasie versoek dat die owerhede ’n rits klagtes teen Malema en Shivambu ondersoek en die EFF as ’n georganiseerde misdaadonderneming.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, se verklaring verwys na onlangse onthullings van Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS Mutual Bank, in ’n omvangryke verklaring wat waarskynlik as deel van ’n pleitooreenkoms ingedien is. Volgens Kriel moet hierdie beweerde kriminele optrede nie in isolasie van die sogenaamde “VBS-skandaal”-verdagtes ondersoek  word nie, maar moet dit ook aanklagte insluit wat op die EFF- politieke party as ’n onderneming dui, soos vervat in POCA .

Kriel verklaar dat gedokumenteerde inligting vryelik beskikbaar in die openbare domein, die redelike vermoede bevestig dat die EFF ’n onderneming is, soos dit in die POCA gedefinieer  word, met ’n geskiedenis van beplande, deurlopende en herhaalde deelname aan of betrokkenheid by kriminele gedrag.

“Die ondersoek verg toegewyde en onwrikbare ingryping deur SAPD  op ’n wyse waardeur hulle, sonder vrees, guns of vooroordeel, gestand sal doen aan die verwagting dat hulle hul grondwetlike verantwoordelikhede sal nakom,” sê Kriel.

POCA definieer ’n patroon van rampokkery as die “beplande, ononderbroke, voortdurende of herhaalde deelname of betrokkenheid” by enige van die meer as 30 misdade wat in dié wetgewing se Bylae 1 uiteengesit is. Dit sluit in korrupsie, bedrog, afpersing en moord. Om so ’n patroon vas te stel, moet daar bewys word dat minstens twee oortredings in ’n tydperk van 10 jaar plaasgevind het en dat dit met mekaar verband hou.

’n Onderneming word in POCA gedefinieer as enige “individu, vennootskap, korporasie, vereniging, of ander regspersoon of regsentiteit, sowel as enige vakbond of groep individue wat feitlik verbind word”.

AfriForum doen ’n beroep op die owerhede om na die groter prentjie te kyk en hul ondersoek uit te brei om vorige bewerings van diefstal, geldwassery, bedrog en korrupsie in te sluit. Dit begin by die party se registrasie met beweerde opbrengste uit misdade, aantygings dat die party voordeel trek uit groot tenders wat in metro’s toegeken word en die beweerde gebruik van die party se hulpbronne om Malema en Shivambu se leefstyle te finansier. Die mees onlangse onthullings skets ’n duidelike prentjie van wat moontlik as voortgesette kriminele gedrag beskou kan word.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat die eenheid die vordering van hierdie ondersoek  sal monitor en stappe sal doen indien die owerhede versuim om op te tree. “Daar moet gelykheid voor die reg wees. Ongelukkig het ons dit nog nie gesien in die staat se ondersoek en vervolging van Julius Malema en ander EFF-leiers nie. Dieselfde onwilligheid om Malema te vervolg, is gesien in die On Point Engineering-saak waar die privaatvervolgingseenheid steeds bevraagteken waarom die Nasionale Vervolgingsgesag nog nie voortgegaan het met die saak nie.”

“Dit is onverklaarbaar gegewe die beskikbare bewyse dat die batebeslagleggingseenheid nog nie die wettige meganismes in POCA gebruik het om beslag te lê op bankrekenings, eiendom en voertuie wat vermoedelik met die kriminele opbrengste aangekoop is nie. Die onweerstaanbare afleiding is dat Malema en Shivambu vir een of ander rede beskerm word teen vervolging en verwante prosesse,” sê Nel.

Soortgelyke plasings