|

Sasolburg-tak woeker met #OnsDorpprojek

Die AfriForum-tak in Sasolburg het Junie afgesluit met die grassnyery vir die wintertydperk. Daar is 6,6 ha gras gedurende Junie in verskillende areas gesny, waaronder die gebied agter die onderwysdepartement, die groenstrook by die NG kerk in Rubensstraat na die Primêre Skool Fonteine, H.F. Verwoerdweg, J.G. Strydomweg, en die groenstrook tussen Van Wouw- en Rembrandstraat. Al hierdie areas is eers skoongemaak voordat die gras gesny is. Agter die onderwysdepartement is daar ook boomtakke afgesaag en verwyder.

Intussen het die tak ook begin om die straatligte in Vaalpark te herstel. As die straatligte buitewerking is, sukkel motoriste nie net om op die pad te sien nie, maar dis dan ook ’n potensiële brandpunt vir misdaad. Daar is al 12 ligte herstel wat reeds ’n groot verskil maak. Die tak het ook Oliviershoeklaan in die rigting van die R59 skoongemaak.

“Die Sasolburg-tak sal nie hul bedrywighede in die winter stopsit omdat hulle nie nou kan grassny nie. Die tak sal ook voortgaan om die Hoёveld Tuine op te knap sodat dit weer ’n mooi en veilige plek kan wees waar gesinne kan ontspan. Ek het groot waardering vir alles wat hulle aanpak en uitvoer,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings