Senekal-rioolkrisis: AfriForum eis optrede


Watertoetse wat deur die AfriForum-tak in Senekal laat doen is, dui aan dat rioolwater in dié dorp erg besoedel is en dus ’n reusegesondheidsrisiko vir inwoners inhou.
Dié toetse is gedoen ná talle klagtes uit die gemeenskap dat onverwerkte riool by mangate uitborrel en in die strate af vloei. Die tak het die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit reeds op 12 Februarie 2018 tydens ’n vergadering versoek om die probleem dringend op te los, maar tot dusver is die situasie onveranderd.
Volgens Dolf Potgieter, ondervoorsitter en hoof van omgewingsake by AfriForum se Senekal-tak, is die grootste oorsaak van dié probleem die munisipaliteit se versuim om die pompstasies, rioolnetwerk en ‑infrastruktuur in stand te hou.

“Die besoedelde water vloei in die Sandspruitrivier in en dan uiteindelik in die Allemanskraaldam. Ingevolge nasionale wetgewing is daar streng beperkings rakende rioolwater wat in natuurlike hulpbronne in vloei. Die uitslae van die watertoetse dui egter aan dat daar onder meer hoë vlakke van ammoniak en E. coli aanwesig is,” sê Potgieter.

Indien die munisipaliteit nie dringend ingryp nie sal die AfriForum-tak strafregtelike stappe oorweeg.

Soortgelyke plasings