|

Ernstige beroep op Lesufi oor veiligheid van skole ná AfriForum, SAPD en taxi’s veilige ontruiming van skool verseker

AfriForum en die Solidariteit Beweging se  Skoleondersteuningsentrum (SOS) is bekommerd oor die veiligheid van leerders en personeel van skole in die Pretoriase middestad nadat AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan saam met die SAPD en taxi’s die Prinshofskool vir swaksiende en blinde kinders help ontruim het tydens vandag se betogings.

Die gemeenskapsveiligheidspan het, op versoek van bekommerde ouers, toegesien dat die leerders en onderwysers van die skool veilig van die skoolterrein ontruim word. Die span het onder meer die minibustaxi’s wat die leerders na hul onderskeie wonings vervoer, begelei en teen die oproerige betogers beskerm.

“Die Gautengse onderwysdepartement het skole vandag aan hulself oorgelaat om leerders en personeel te beveilig. Ons verwag van die departement om die nodige veiligheidsmaatreëls in plek te stel om leerders en koshuisinwoners se veiligheid te verseker,” sê Carien Bloem, bestuurder vir AfriForum onderwys.

“Die beskerming van onskuldige burgers en veral kinders teen diegene wat hul leed wil aandoen, is vir AfriForum ’n prioriteit. AfriForum verwelkom elke geleentheid om met wetstoepassingsowerhede saam te werk om hierdie prioriteit te laat seëvier,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“Ons versoek Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, om dringend besoek by die Prinshofskool af te lê om hom van die omstandighede te vergewis,” sê Bloem.

Skole word aangemoedig om AfriForum te kontak om hulle behulpsaam te wees gedurende onluste.

* AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan doen ook veiligheidsoudits by skole en beskik oor veiligheidsouditboekies wat skole kan help om risiko’s in dié verband te identifiseer en hok te slaan.

Soortgelyke plasings