Setsoto Munisipaliteit gee terugvoer ná optog


Mnr. Thabo Mekhethoa, verteenwoordiger van die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit, en AfriForum se Senekal-tak het op 6 September moontlike oplossings vir die wanfunksionele rioolstelsel in die Setsoto Munisipaliteit met dié gemeenskap bespreek. Dit volg nadat lede van die gemeenskap op 6 Augustus teen swak dienslewering betoog het en ’n memorandum aan die munisipaliteit oorhandig het.
Volgens Mekhethoa lê die grootste probleem by ’n gebrek aan befondsing vir die opgradering van die rioolstelsel en dus wag hulle nou op nasionale regering vir finansiële bystand. Die munisipaliteit het reeds besigheidsplanne rondom befondsing ingedien en wag vir goedkeuring. Die Setsoto Munisipaliteit is een van 57 munisipaliteite wat vir ingryping op nasionaleregeringsvlak geoormerk is.

“Die raad en burgemeester moet meer op grondvlak by die gemeenskap betrokke raak en eerder inwoners van Setsoto as konsultante gebruik, in stede van Pretorianers wat nie kennis of ervaring oor die diensleweringskwessies het nie. Ons is bereid om te help met ’n volhoubare oplossing, mits ons toegelaat word,” sê Mike Odendaal, voorsitter van AfriForum se Senekal-tak.

Die kapasitiet van die huidige rioolstelsel kan nie meer die lading hanteer nie, wat veroorsaak dat slegs ’n derde van die riool die hoofpompstasie bereik. Lede van die gemeenskap vererger ongelukkig die probleem weens niebiologiese afval wat in rioolpype gestort word en dan verstoppings veroorsaak. Eskom het ook hul misnoeë teenoor die munisipaliteit bekend gemaak oor gereelde kabeldiefstal by die pompstasies en kabels wat dan herhaaldelik deur Eskom vervang moet word.
Mekhethoa het namens die munisipaliteit onderneem om besigheidsplanne aan AfriForum se Senekal-tak beskikbaar te stel wat besonderhede oor die herstel van die infrastruktuur sal bevat. Verder is daar ooreengekom dat die afsonderlike partye ná ses weke weer bymekaar sal kom om die vordering te bespreek.

Soortgelyke plasings