|

Skokkende toestand van Knysna-vullisterrein noop AfriForum om self verandering teweeg te bring

Alhoewel daar slegs tuinvullis en bourommel by die Knysna Old Place munisipale vullisterrein gestort mag word, het die ontdekking van onder meer diere-karkasse en ander skadelike afval by die ingang van hierdie terrein die plaaslike AfriForum-tak genoop om self verandering teweeg te bring. AfriForum maak die afgelope twee weke werk daarvan om hierdie munisipale vullisterrein meer toeganklik te maak, aangesien die toegangspad na die terrein al vir maande lank van die vullis deurtrek is. Intussen word enige en alle soorte vullis en afval by die ingang gestort. Die toestand van hierdie pad het boonop al so versleg dat inwoners bykans glad nie toegang tot die vullisterrein kan verkry nie.

AfriForum het onlangs ’n landwye vullisterreinoudit gedoen en die Knysna Plaaslike Munisipaliteit se vullisterrein het van die slegste in die Wes-Kaap gevaar (12%-nakoming). Gevolglik het die Knysna-tak op 17 Julie ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig om dié kwessie onder hul aandag te bring. Die burgerregteorganisasie het daarop gewys dat die gebrek aan toegangsbeheer en bestuur die situasie by die terrein vererger. AfriForum het ook op die dringendheid van die situasie gewys en die munisipaliteit versoek om binne sewe werksdae te reageer sodat hulle saam met oplossings vorendag kan kom.

Die munisipaliteit het egter eers twee weke later gereageer – nadat AfriForum reeds begin het om die toegangspad na die vullisterrein skoon te maak. Volgens die waarnemende munisipale bestuurder gaan die munisipaliteit eers ’n eksterne oudit by die terrein voltooi voordat ’n aksieplan geformuleer word. Intussen het die AfriForum-tak reeds sowat 150 vragte tuinvullis, huishoudelik rommel en ander soorte vullis by die ingang van die vullisterrein opgelaai en weggery. Verder het vrywilligers van die Knysna-tak oor die naweek sowat 40 swartsakke se vullis bymekaargemaak en dié tak se jeugafdeling beplan om dieselfde later vandeesweek te doen. Die tak het ook sewe vragte gruis van sowat ses ton elk gebruik om slaggate op die toegangspad reg te maak.

“Die welstand van die omgewing en die inwoners wat hierdie terrein besoek word elke dag meer en meer bedreig, daarom word hierdie probleem nou self deur AfriForum aangepak. Daar is nog baie werk wat by die terrein gedoen moet word, maar AfriForum sal voortgaan om die belange van Knysna se inwoners eerste te stel en so gou as moontlik hierdie gesondheidsrisiko te neutraliseer. Die Knysna-tak sal ook voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas sodat hierdie vullisterrein so gou moontlik aan die nodige wetlike vereistes van verantwoordelike afvalbestuur voldoen,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Die Knysna-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om hand by te sit en te help om hierdie reusetaak af te handel . Stuur ’n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 om met hierdie broodnodige skoonmaakprojek te help.

Soortgelyke plasings