|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Rayton

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 22 September by die Laerskool Rayton besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons beskou die teenboelieveldtog as noodsaak omdat ons toenemend agterkom dat ons in ’n samelewing leef waar mense afknouery as korrekte gedrag beskou. Kinders het nie altyd die regte rolmodelle in dié verband nie. As grootmense is dit dus ons plig en verantwoordelikheid om ons kinders op te voed en die regte voorbeeld te stel. Boeliegedrag lei tot ernstige emosionele skade by kinders en kan ook aanleiding gee tot ernstige wrokgedagtes by kinders wat afgeknou word wat gevolglik tot ernstiger uitvalle soos fisiese geweld kan lei. Dit moet ten alle koste vermy word. Kinders moet van kleins af leer dat respek en medemenslikheid ’n gelukkige en veilige samelewing kweek,” sê Anne-Marie Wagener, onderwyser by die Laerskool Rayton.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings