|

Skokonthulling: Kraanwater in Parys net gedeeltelik behandel

“Ons is dors!”: Protesgangers in Parys ruk op oor water

’n Ingenieursverslag wat in opdrag van AfriForum oor die toestand van die Parys-watersuiweringsaanleg opgestel is, toon dat gedeeltelik behandelde rivierwater by dié aanleg, sonder selfs die mees basiese waterbehandeling, direk in die dorp se waternetwerk gepomp word. Daarbenewens toon die verslag dat uiteenlopende basiese instandhoudingswerk op die aanleg nie gedoen word nie, dat die aanleg swak bestuur word en dat nuwe infrastruktuur wat geïnstalleer is, reeds foutief is. Dié en verskeie ander kritieke bevindinge is vervat in ’n volledige verslag wat spruit uit ’n besoek wat AfriForum op 9 Mei by die watersuiweringsaanleg afgelê het.

AfriForum sowel as die gemeenskapsorganisasies Save Ngwathe en Metsi Pompong en ontstoke gemeenskapslede van Parys, Tumahole en Schonkenville het vandag na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se kantoor in Parys opgeruk. Die onvermoë van die munisipaliteit om veilige drinkwater aan die nagenoeg 50 000 inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville te lewer, het nou die situasie op dié Vrystaatse dorp laat oorkook.

Die ingeneursverslag en ’n memorandum waarin hul eise vir die dringende oplossing van die nypende waterkrisis in Parys en die omliggende nedersettings uiteengesit word, is tydens die protesaksie aan die munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, oorhandig. Mothamaha het hiertydens bevestig dat die munisipaliteit môre om 09:00 met AfriForum, Save Ngwathe, Metsi Pongpong en verteenwoordigers van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gaan vergader om die probleme, soos uitgewys in AfriForum se ingenieursverslag, sowel as moontlike oplossings daarvoor, te bespreek.  

Die watersuiweringsaanleg op Parys bestaan uit drie eenhede met ’n totale suiweringskapasiteit van 25 megaliter per dag. Die jongste toevoeging tot die aanleg is die Trident modulêre -eenheid wat nagenoeg agt jaar gelede, teen ’n koste van R30 miljoen opgerig is om watersuiweringskapasiteit met 10 megaliter per dag te verhoog.

Volgens die DWS se Nasionale Bloudruppelverslag wat in Desember 2023 uitgereik is, vaar Parys power in die voorsiening van skoon drinkwater aan inwoners. In dié verslag word daar onder meer benadruk dat DWS die watervoorsieningsinstelling – in hierdie geval die munisipaliteit – onder regulatoriese toesig geplaas het en dat die munisipale bestuurder ’n gedetailleerde herstelprogram binne 20 dae ná die publikasie van die Bloudruppelverslag aan die DWS moes voorlê.

In die Ngwathe-munisipaliteit se 2022/2023-jaarverslag wat in April vanjaar gepubliseer is, word egter beweer dat 90% van alle inwoners in dié munisipaliteit (waaronder Parys, Heilbron, Koppies, Vredefort en Edenville val) toegang tot drinkwater het. Belanghebbendes wat aan vandag se protesaksie deelgeneem het, hou vol dat dit wat tans in Parys en die omliggende gemeenskappe afspeel, bevestig dat die munisipaliteit feite versin, nie die erns van die krisis insien nie en derhalwe nie die wil of vermoë het om die probleme met die dorp se wankelende watersuiweringsinfrastruktuur op te los nie. 

Die betrokke organisasies en die Parys-, Tumahole- en Schonkenville-gemeenskappe eis derhalwe dringende ingryping by die munisipaliteit se watersuiweringsaanleg weens die swak bestuur en die gebrekkige installering van infrastruktuur en toerusting aldaar. Die organisasies eis voorts dat toegang tot die watersuiweringsaanleg gegee moet word aan die gemeenskap en spesialiste sodat aanbevelings ten opsigte van wetlike voorvereistes gemaak kan word; dat AfriForum se ingenieurs betrek word in die oorsig, bestuur en uitvoering van projekte by die waterwerke; dat AfriForum se ingenieurs, op die organisasie se onkoste, opleiding bied aan alle watersuiweringsaanlegpersoneel; en dat die gemeenskap op ’n weeklikse basis oor die watergehalte ingelig moet word. Daarbenewens eis die betrokkenes ook dat die gemeenskap dadelik in kennis gestel moet word wanneer bevind word dat water wat deur die aanleg versprei word, ongeskik is vir menslike gebruik en dat die nodige regstellende stappe gedoen sal word.

In die memorandum word voorts ook geëis vir die samestelling van ’n beheerkomitee met verteenwoordigers van die munisipaliteit, AfriForum, Save Ngwathe, Metsi Pongpong, die provinsiale DWS en die Vrystaatse premier. Luidens die memorandum is die doel van die komitee om sake soos die instandhouding van die watersuiweringsaanleg sowel as die bestuur en opgradering daarvan te fasiliteer.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, is die kraanwater wat AfriForum in Parys getoets het, nie voldoende behandel nie. “Die swak gehalte van watersuiwering op Parys hou ernstige gesondheidsrisiko’s in. Ten spyte van dié risiko’s kon AfriForum geen enkele kennisgewing opspoor waarin die munisipaliteit die gemeenskap waarsku dat die water wat uit hul krane vloei, nie geskik is vir menslike gebruik nie. Intussen ly ieder en elk in hierdie gemeenskap onder die munisipaliteit se gebrekkige bestuur. En terwyl hooggeplaastes in die munisipaliteit dit kan bekostig om toegang tot hierdie basiese mensereg te koop, is die armste lede in die gemeenskap dors en uitgelewer aan die genade van ’n owerheid van sy rug op sy mense gekeer het,” verduidelik Mostert.

“Vandag is egter ’n wekroep vir die munisipaliteit, want hierdie gemeenskap se dors na skoon drinkwater laat hul nou saamstaan en opstaan vir hul smagting na geregtigheid,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings