|

Só onthou Tannie Dorina de Lange Ohrigstad en sy mense …

Tannie Dorina de Lange (83), oudonderwyser en geskiedenisliefhebber, het twee jaar gelede die pen opgeneem en in ’n 26-bladsy-dokument die geskiedenis en van haar jeugherinneringe oor dié Laeveldse dorpie Ohrigstad, sy mense en die omliggende omgewing opgeteken.

As ’n nooi McDonald het sy in die dorp grootgeword. Sy skryf hoe Willie McDonald sr (haar oupa) in die laat 1940’s eendag tydens die erediens in die ou Voortrekker-kerkie opgespring het. Hy het die predikant se aandag gefokus op ’n slang wat onder die orrel ingekruip het. Die slang is verwyder waarna die erediens “rustig” afgehandel is. Ohrigstad was altyd vir slange, veral mambas, bekend. ’n Navorsingspan het dikwels van Halfweghuis (vandag Midrand) gekom om die slange te vang en te melk.

Dorina de Lange

Dié kerkie is oorkant die Voortrekker-skooltjie gebou en in 1853 voltooi. Die kerkie en skooltjie is later tot nasionale gedenkwaardighede verklaar.

Die Voortrekker-skooltjie in 1951

Tannie Dorina se dogter, Melanie Shen van Hillcrest in KwaZulu-Natal, wat haar ma se liefde vir geskiedenis deel, is ook vertroud met die staaltjies oor haar oupagrootjie. Hy het glo in 1938 tydens die Groot Trek-herdenking onder meer ’n bottel mampoer in ’n betonkas gebêre wat langs die Gedenknaald gebou is. Dié kas sal in 2038 oopgemaak word en Shen sê daar is groot afwagting om te sien wat van die mampoer asook ander artikels en dokumente geword het wat destyds in die kas toegesluit is.

Die Gedenknaald

Vir Tannie Dorina is die pragtige en vrugbare Ohrigstad-vallei in die destydse Oos-Transvaal (vandag deel van Mpumalanga en Limpopo), een van die mooiste valleie in die land. Dit strek vanaf Krugerspost in die suide tot by die Abel Erasmuspas en Strijdomtonnel in die noorde. Dit lê tussen twee bergreekse met die Ohrigstadrivier wat van suid na noord deur die vallei vloei tot by die Blyderivier waar die Drakensberg die grens tussen die Bosveld en die Laeveld vorm.

In Tannie Dorina se optekening van die geskiedenis meld sy die groot rol wat die Voortrekker Pioniers in die totstandkoming van die Ohrigstadnedersetting, meer as 170 jaar gelede, gespeel het, en dat dit nie vergeet mag word nie. Hulle het met geloof, onverskrokkenheid en idealisme na ʼn onbekende en onherbergsame gebied getrek, aangespoor deur die drang na vryheid en vooruitgang, waarvan handel met die buiteland deel was.

Andries Hendrik Potgieter het reeds in die winter van 1843 Delagoabaai (nou Maputo) besoek. Dit was as hawe van groot belang vir die Trekkers. In die somer van dieselfde jaar was Potgieter weer daar, maar vol riviere, malaria en tsetsevlieg het tot gevolg gehad dat dié besoek rampspoedig verloop het. Dit was tydens sy derde besoek aan Delagoabaai in die winter van 1844 waar hy die Nederlandse skeepseienaar en handelaar Gregorius Ohrig ontmoet het. Potgieter is aangeraai om nader aan die Portugese gebied te trek.

’n Groep van Potgieter se geselskap wat in die binneland agtergebly het, het tot die slotsom gekom dat die hele kommando omgekom het. Die riviertjie waar hul waens gestaan het, is om die rede Treurrivier gedoop. Hulle het besluit om na die Wes-Transvaal terug te keer, maar is kort daarna deur die groep wat van Delagoabaai teruggekeer het by die volgende rivier ingehaal. Vol blydskap en dankbaarheid is hierdie rivier tot die Blyderivier hernoem.

Daar is besluit dat ’n groep Trekkers van Potchefstroom na die Oos-Transvaal moet trek. In Augustus 1945 was daar reeds ongeveer 300 gesinne en 1 000 inwoners in dié nuwe nedersetting waar ’n skansmuur om die laer gebou is om die Trekkers van inheemse stamme te beskerm. Daar is besluit om die nuwe dorp Andries Ohrigstad te noem, ter ere aan Andries Hendrik Potgieter en Gregorius Ohrig. Plase en erwe is aan Trekkers toegeken met Potgieter se plaas Strijdfontein wat op 2 Augustus 1845 uitgemeet is.

Onenigheid tussen die Trekkers het daartoe gelei dat Potgieter in 1848 verder noordwaarts getrek het. Die Trekkers was leierloos en ook weerloos. Armoede en ellende het hulle in die gesig gestaar. Om die haglike toestande te vererger, het ʼn dodelike malaria-epidemie in die somer van 1848 uitgebreek.

Hoewel baie Trekkers suidwaarts na ʼn meer gesonde gebied getrek het, het daar tog van hulle in die Ohrigstad-nedersetting agtergebly. Die dorpsgebied was egter ná die epidemie omtrent heeltemal verlate. Dit was hoofsaaklik net die boere op die plase wat vasgebyt het en met hulle boerdery voortgegaan het. Aanvanklik het die boere koring en tabak verbou, maar dit was veral ná die Anglo-Boereoorlog dat hulle ook ander gewasse soos mielies en hawer begin plant het.

’n Herlewing het in die 1920’s in Ohrigstad plaasgevind ná die regering met sukses malariabestryding toegepas het. Daar was heelwat nuwe intrekkers. Die klimaat het die verbouing van ’n verskeidenheid gewasse moontlik gemaak, maar dit was veral tabak waarmee baie sukses behaal is. In die 1980’s het die tabakboerdery egter in duie gestort. Deesdae is sitrusvrugte en neute die vernaamste gewasse waarmee daar in die omgewing geboer word.

Daar is baie besienswaardighede in die Ohrigstad-vallei en omgewing te sien. Op pad na Ohrigstad, ry ’n mens deur Lydenburg – die dorp wat op 20 September 1850 na die malaria-epidemie gestig is. Vandaar die naam Lydenburg. Daar is ook Die Burgermonument wat in 1918 opgerig is ter ere aan die boere van Lydenburg wat tydens die Anglo-Boereoorlog gesterf het.

Ander bakens is die NG Kerk (Klipkerk), die Ou Brug oor die Spekboomrivier en die Jock of the Bushveld-gedenkplaat wat by dié brug aangebring is.

Daar is ook die asemrowende Blyderivier Canyon en Bourke’s Luck Potholes, die Abel Erasmus-bergpas, die Strijdom-Tonnel en die Eggo-Grotte net noord van Ohrigstad. ’n Gedeelte van die skansmuur uit die oorlog het ook behoue gebly en is in 1969 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Ohrigstad spog ook met ’n gelyknamige dam wat in 1955 op die plaas Noupoort gebou is omdat die dorp deur die jare maar altyd met water gesukkel het. Later is die natuurreservaat by die dam ontwikkel.

Bourke’s Luck Potholes

Ohrigstad het ook ’n Voortrekker Begraafplaas. Tydens die eeufees van die dorp in 1945 is die oorskot van die Voortrekkers wat op Rietfontein begrawe was, hier herbegrawe. ’n Gedenksteen met hul name is ook hier opgerig.

Replika van ‘n ossewa en die Gedenksteen

Tannie Dorina het ook bietjie verder gedelf en ’n paar interessanthede van Ohrigstad opgeteken, wat soos enige ander klein dorpie dinge het wat nêrens anders voorkom nie.

Ohrigstad was byvoorbeeld ’n baie ongesonde gebied vir beesboerdery en siektes soos hartwater en rooiwater het algemeen voorgekom. In die 1940’s en 1950’s was al die boere verplig om hul beeste elke week onder toesig van ’n raadslid te dip!

Nog ’n staaltjie sal waarskynlik deur skoliere van Ohrigstad onthou word. Daar was die Branddraaibus en twee kleiner bussies, die Donkerhoekbussie en die Grootboom-Rustplaasbussie. As dit baie gereën het en die rivier afgekom het, het Jurie Bezuidenhout gewoonlik met sy kierie oor die oorspoelde brug vooruitgeloop om te bepaal of dit veilig genoeg was vir die bus om oor te ry.

Soos elke gemeenskap het Ohrigstad ook sy hartseer en tragiese verhale waar een gesin se smart almal s’n was. Die gemeenskap onthou die gebeurtenis waar Willie van Tonder se kleuterdogtertjie jare gelede buite gespeel en op onverklaarbare wyse in ’n skottel kokende konfyt geval het. Sy is na die hospitaal gejaag, maar sy was reeds oorlede. Dít het baie jare in die mense van Ohrigstad se gemoed voortgeleef.

  • Tannie Dorina het verskeie geskiedenisbronne genader om haar vertelling aan te vul.

Soortgelyke plasings