|

AfriForum se Sasolburg-tak ruim DF Malanstraat by dammetjie op

Die AfriForum-tak in Sasolburg het op 13 April die gebied by die dammetjie in DF Malanstraat opgeruim. Hulle het 1,3 hektaar se gras gesny en daar is ongeveer 40 sakke vullis en gras, wat die munisipaliteit na verwagting sal verwyder. Verder is daar ook ’n voetgangersbordjie, wat skeef gehang het, herstel sodat dit netjies lyk. Hierdie gebied was nie net onooglik nie, maar dit het ook ’n gesondheidsgevaar vir die publiek ingehou omdat daar allerhande vullis weggegooi word. Dit is ook ’n veiligheidsrisiko omdat haweloses daar slaap en bly. Daarom is boomtakke wat laag hang, afgesaag om sigbaarheid te verhoog.

Die tak is dankbaar vir die munisipaliteit wat 25 liter brandstof aan die projek geskenk het. Daar word gehoop dat dit die begin van goeie samewerking sal wees. ’n Weldoener het die arbeider se loon betaal waarvoor die tak baie dankbaar is.

Op 15 April het twee lede van die Sasolburg-tak ’n park in Vaalpark se bome gesnoei en sewe vragte se hout en blare weggery. Ook hierdie park lyk nou mooi en is ook veiliger.

“Hierdie tak maak werklik ’n reuse-verskil in Sasolburg en Vaalpark. Ons is dankbaar vir die lede van die gemeenskap wat ’n bydrae lewer, maar dit sal so ’n groot verskil maak as die hele gemeenskap kan betrokke raak,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.

Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak, nooi die gemeenskap uit om te kom kyk hoe netjies dit nou lyk waar die tak gewerk het. “Kom kyk en word deel van die verskil wat ons probeer maak,” sluit Cooks af.

Indien jy graag by die Sasolburg-tak se projekte betrokke wil raak, kontak Cooks by 083 230 9073.

Soortgelyke plasings