|

AfriForum loods dokumentêr oor die ware stand van sake in Netbal SA

AfriForum loods vandag ’n kort dokumentêr wat sekere harde realiteite binne Netbal Suid-Afrika (NSA) aan die publiek sal openbaar.    

Netbal is een van die sportsoorte in Suid-Afrika wat ongelooflike potensiaal het, maar as gevolg van wanbestuur en politieke agendas word hierdie potensiaal nie ten volle ontgin nie. Volgens Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, het verskeie rolspelers wat tot onlangs nog by NSA betrokke was, AfriForum genader oor onder meer voorvalle van viktimisasie, wanbestuur en seksuele teistering in NSA. Hierdie rolspelers het AfriForum versoek om in te tree.

“Die Netbalwêreldbeker is om die draai en die amptelike hutsmerk van dié wêreldbeker is #TakingNetballBackToThePeople. Vanjaar se wêreldbekertoernooi fokus dus daarop om netbal terug te bring na die mense, daarom is dit vir ons belangrik dat Suid-Afrikaners weet wat werklik agter die skerms in Netbal SA aangaan. Ons gemeenskappe en die private sektor moet begin opstaan en die toekoms van sport saam met organisasies soos AfriForum weer in ons eie hande neem,” sê Peters.

AfriForum veroordeel die wanbestuur van sportfederasies en die beheerliggame van sport in Suid-Afrika ten sterkste aangesien dit ’n wesenlike impak het op die rol wat sport werklik in die ontwikkeling en bemagtiging van gemeenskappe behoort te speel.

Soortgelyke plasings