|

Strand Patrol-buurtwag gereed om gemeenskap te beveilig

AfriForum se buurtwagte bestaan uit gewone mense wat bereid is om hulle tyd op te offer om te help om hul gemeenskappe te beveilig. Die Strand Patrol-buurtwag is een van hierdie buurtwagte landswyd wat hulle deel doen om ’n verskil in hulle gemeenskap te maak.

Dié buurtwag het deur die loop van November en Desember verskeie aksies aangepak om bewusmaking te skep en hulself toe te rus met die nodige toerusting om die gemeenskap te beveilig. Daar is vyf nuwe brandblussers aangeskaf, asook glimbaadjies, flitse, radiotoerusting en mediese benodighede. 

Dit is altyd goed om te weet wie gekontak kan word in ’n noodgeval, daarom het die buurtwag saam met sekuriteitsmaatskappye soos Fidelity ADT, AM Sekuriteit en Vetus Schola die gemeenskap genooi om op 4 November deel te neem aan ’n kenmekaar geleentheid. Tydens hierdie geleentheid kon die gemeenskap met hierdie rolspelers gesels, vrae vra en hulle bekommernisse bespreek. Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is hierdie geleenthede belangrik om verhoudings te bou tussen die gemeenskap en veiligheidsrolspelers omdat dit die gemeenskap gerusstel maar ook rolspelers bewus maak van spesifieke uitdagings.

Hierdie buurtwag lewer maand na maand uitstekende resultate in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en die plaaslike SAPD. Benade doen ’n beroep op die gemeenskap om deel te word van hierdie buurtwag om ’n daadwerklike verskil in hulle omgewing te maak. Belangstellendes kan aansluit by www.afriforumbuurtwag.co.za.

AfriForum se Strand-tak het ook gewys dat hulle ’n verskil maak in die Strand-gemeenskap. Dié tak het sewe bome geskenk en geplant by Van Niekerk-Benadehof, ’n aftrede- en bystandsinwoningsfasiliteit.

Soortgelyke plasings