|

Klerksdorpse park nou skoner én veiliger danksy Songloed-buurtwag

AfriForum se Songloed-buurtwag is dalk meer bekend vir die gereelde patrollies wat in Klerksdorp onderneem word, maar vrywilligers betrokke by hierdie buurtwag het Vrydag (8 Desember) ook ingespring om veiligheid op ’n heel ander manier te takel. Die Songloed-buurtwag het in samewerking met verskeie gemeenskapslede en die privaat sekuriteitsmaatskappy Action Force ingespring om die vervalle park in Kernick Place skoon te maak en sodoende veiligheid hier te bevorder.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die park ’n berugte wegkruipplek en deurgangsroete van misdadigers en slaapplek van sluipslapers wat boonop met misdade in die omgewing verbind word. Die opruiming van die park is derhalwe noodsaaklik vir die opskerping van veiligheid in hierdie gemeenskap.

’n Totaal van tien bakkie- en sleepwavragte gevul met huishoudelike rommel, tuinvullis en bourommel is hier opgeruim en weggery. Die park is nou skoon en daarom doen die buurtwag ’n ernstige beroep op die gemeenskap om nie weer daar rommel te gooi nie.

“Projekte soos dié is noodsaaklik vir die gemeenskap en moet gedoen word om die voortslepende verval van Klerksdorp teë te werk. Die munisipaliteit gaan dit beslis nie doen nie, en daarom moet ons dit self doen – ter wille van ons veiligheid en ons omgewing. Wees die verskil wat jy graag wil sien,” sê Pretorius.

Die buurtwag versoek ook die gemeenskap om alle misdaad, hoe gering ook al, by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld. “Die aanmelding van misdade is noodsaaklik aangesien dit die volle omvang van misdadigheid aan die polisie sal blootlê,” verduidelik Pretorius. Sy beklemtoon dat die nie-aanmelding van misdade die polisie onder ’n wanindruk van die omvang van misdade plaas en dat korrekte feite oor misdade die beskikbaarstelling van hulpbronne, soos polisiebeamptes, kan beïnvloed.

Raak vandag nog betrokke by dié buurtwag. Kontak die Songloed-buurtwagleier, Romke de Jongh, by 074 429 7777.

Soortgelyke plasings