|

Suid-Afrikaners is siek en sat vir misdaad. Dis tyd vir opstaan en saamstaan

Ons is moeg vir bloed, lyke en koeëls in Suid-Afrika.

Só het Yusuf Abrahamjee, ’n teenmisdaad-aktivis, by AfriForum en die Solidariteit Beweging se veiligheidsberaad in Pretoria gesê waar hy ’n ernstige pleidooi gelewer het dat alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras of agtergrond nou moet saamstaan en teen misdaad moet begin mobiliseer.

Abrahamjee het harde woorde vir die regering en veral ook die polisie gehad wat nie daarin slaag om gemeenskappe te beveilig nie.

“Kriminele het die land oorgeneem en terroriseer ons mense – wit en swart. Dis tyd dat ons eienaarskap van die probleem neem en vennootskappe sluit om binne die raamwerk van die wet teen misdadigers op te tree.”

Abrahamjee het gesê hoewel daar goeie mense in die polisie is, is daar net so baie wat pateties, korrup en op die soustrein is. “As ons as die burgerlike samelewing nie iets begin doen nie, sal hierdie regering nie wakker skrik nie.”

Hy het gepraat oor die hoë moordsyfer onder alle Suid-Afrikaners, maar ook na plaasmoorde verwys wat besig is om die land en die nasie dood te maak.

Hy het gesê dis tyd dat ’n massiewe opmars teen misdaad georganiseer word.

Conway Evertson, direkteur van die ministerie van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het verduidelik dat die stryd teen misdaad gepak word deur bendes, alkoholmisbruik en onwettige wapens van die strate te probeer kry.

Hy het oor sinergie tussen gemeenskappe en die regering in die geveg teen misdaad gepraat.

Hy het verwys na ’n baie suksesvolle “lopende bus”-projek wat verlede jaar begin is. Deur die gemeenskap te betrek het meer as 300 mense by die projek betrokke geraak wat leerlinge van vier skole help.

Die projek behels vrywilligers wat vroeg in die oggend opstaan en as’t ware ’n buffer vorm om kinders op pad skooltoe teen bendes en misdadigers te beskerm. Talle kinders kom op die manier veilig by hul skole waar hulle in die verlede te bang was om skool toe te gaan.

Lede van die “lopende bus” het glimbaadjies, fluitjies en paniekknoppies en skreeu ook as gevaar dreig om mekaar bewus te maak van moontlike aanvallers. Die lede is ook instrumenteel om te verseker dat geen wapens of onwettige dwelms by skole uitkom nie.

Die inisiatief is suksesvol omdat die ministerie vir veiligheid in die provinsie, die polisie en gemeenskapspolisiëringsforums ook betrokke is.

Terwyl dit aanvanklik in die Wesbank afgeskop het, is dit so suksesvol dat dit na talle ander areas Delft, Belhar, Eersterivier, Strand, Manenberg en Khayelitsha uitgebrei is.

Volgens Evertson glo die provinsiale regering dat daar befondsing vir dié soort projekte gekry moet word omdat dit duidelik ’n verskil in die veiligheid van gemeenskappe maak.

Soortgelyke plasings