|

Lekota sê misdaad dryf kundiges van plase af

Mosioua Lekota, leier van Cope, sê Suid-Afrika het nie die regte leierskap om die land vorentoe te neem om ’n beter toekoms vir almal te help bewerkstellig nie.

Hy het by AfriForum en die Solidariteit Beweging se veiligheidsberaad in Pretoria gepraat oor onder meer die impak van misdaad in landelike gebiede.

Lekota het ’n donker prentjie geskep van hoe die verslegtende landbou-toestande en situasies op plase besig is om Suid-Afrika afwaarts te druk en tot erge armoede en werkloosheid aanleiding te gee.

Lekota het ook na die politieke situasie in die land verwys en gesê daar is nie genoeg erkenning vir wat sekere leiers soos FW de Klerk gedoen het om ’n vreedsame oorgang te bewerkstellig nie. Hy het na die destydse onderhandelings by Kodesa verwys en gesê daar is ooreengekom dat ’n land vir wit en swart geskep moet word. “Wat sê Zuma vandag vir ons met wat hy besig is om te doen en te sê? Wie se hy wie se land is hierdie?”

Lekota het gesê kinders, ongeag hul ras, moet geleer word dat die land aan almal behoort wat hier woon.

Hy het gesê Suid-Afrika het net ’n toekoms as eerlike mans en vroue as leiers ingestem word. Hy het korrupsie deur pres. Jacob Zuma en die regering sterk veroordeel. “Ons sal hierteen moet opstaan, want ons het nêrens anders om heen te gaan nie. Ons moet weer trots word en ’n groot nasie bou.”

Prof. Rudolph Zinn, dosent in polisiëring en forensiese ondersoeke by Unisa, het gepraat oor die noodsaaklikheid dat misdaadinligting uitgeruil moet word in die stryd teen misdaad. Hy het ook die belangrikheid beklemtoon dat gemeenskappe en strukture en die polisie moet saamwerk.

Die kwessie van buurtwagte en patrollies is ook uitgewys as ’n belangrike faktor in die stryd teen misdaad. “Patrollies is baie belangrik. Maar nog belangriker is wanneer en waar dit gedoen word en dat dit nie volgens ’n vaste patroon gedoen moet word.”

Zinn het gesê misdadigers gebruik ook intelligensie om hul aanvalle te beplan. In navorsing wat onder misdadigers gedoen is, het hulle aangedui dat hulle afgeskrik word wanneer meer as een hulpmiddel ingespan word. Dit sluit in waghonde, veiligheidsheinings, alarmstelsels, gewapende reaksie-eenhede en veiligheidsligte.

Zinn het gesê mense moet besef dat hulle die grootste kans het om in hul woongebiede en huise slagoffers van misdaad te word en daarom moet hulle soveel veiligheidsmaatreëls moontlik in plek hê.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het in sy spreekbeurt gesê die eerste ding wat hy besef het toe die DA in beheer gekom het, is dat beleggings nie na die stad gelok kan word as veiligheid nie gewaarborg kan word nie.

Hy het gesê daar is onmiddellik met stappe begin om die metropolisie op te lei sodat hulle kan help om misdaad daadwerklik af te bring. Welslae is reeds behaal en beslag is op meer as R2 miljoen se dwelms in Pretoria gelê. “Ons is besig om die strate skoon te maak en ons weet beleggers sal kom as dit skoon en veilig is.”

Msimanga het gesê Suid-Afrikaners sal alles moontlik moet doen om die land reg te ruk, omdat hulle geen ander plek het om heen te gaan nie. “Ons mag nie misluk nie. As ons provinsie suksesvol is, sal die land suksesvol wees.”

Soortgelyke plasings