|

Suidstreek nóg veiliger ná AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenhede met 19 lede groei

Diegene wat aan die Weskus woon kan gemoedsrus hê in die wete dat nóg 19 van sy AfriForum-buurtwaglede oor die nodige kennis beskik om ernstige veiligheidskwessies te ontlont. Dié groep het verlede week gespesialiseerde opleiding in gemeenskapsveiligheid ontvang en vorm nou deel van AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenhede – oftewel protospanne.

Die betrokke buurtwaglede is aan die AfriForum-takke in Matzikama, Weskus, Strand, Helderbergkom, Durbanville en Hessequa verbonde. Hulle het van 8 tot 13 April opleiding ontvang in onder meer kontakgevegskuns, bloedingbeheer, die beveiliging van tonele, die opstel van padblokkades en taktiese vuurwapenhantering.

Benewens die protospanopleiding, wat slegs aan gekose buurtwaglede aangebied word, bied AfriForum op ’n weeklikse basis ook basiese buurtwagopleiding aanlyn aan. Hierdie opleiding dek aspekte soos misdaadtoneelhantering, inligtingsinsameling, regsaspekte en huis-en-haard-beskerming. Meer as 7 000 vrywilligers het hierdie opleiding die afgelope twee jaar suksesvol voltooi.

AfriForum het in hierdie stadium 172 veiligheidstrukture landwyd wat met behulp van byna 11 000 vrywilligers woonbuurte én landelike gebiede beveilig.

“Al hoe meer vrywilligers raak betrokke by AfriForum se buurtwagstrukture en dit is vir ons uiters belangrik dat hierdie lede goed opgelei word sodat hulle veilig, effektief en binne die raamwerk van die wet hul pligte kan uitvoer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Broodryk sê vir so lank as wat die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) daarin faal om sy mandaat na te kom, sal AfriForum aanhou om gemeenskappe te help om hul veiligheid in hul eie hande te neem.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings