|

Sukses: AfriForum wen bevel teen Rand Water met koste

AfriForum het vandag in die Pretoriase Hooggeregshof ’n bevel teen Rand Water met koste gewen. Rand Water het in November 2020 die waterdruk in verskeie areas verlaag weens die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om uitstaande skuld te vereffen.

Hoewel die waterdruk in verskeie dorpe erg verlaag is, was dele van Bethal en Leandra heeltemal sonder water gelaat. Inwoners moes vir weke op ’n slag sonder lopende water oor die weg kom.

In Maart 2021 het AfriForum ’n aansoek ingedien om die besluit om die waterdruk te verlaag te hersien nadat die organisasie bepaal het dat daar nie genoegsame publieke deelname aan die proses was nie.

Die saak is uiteindelik ná twee jaar se gesloer deur Rand Water se regspan afgehandel en die besluit is deur die Hooggeregshof in Pretoria ongeldig en onwettig verklaar.

AfriForum het noodwaterpunte in Bethal en ander geaffekteerde dorpe opgerig om gemeenskappe te help indien hul krane sou opdroog. Hierdie noodwaterpunte word sonder enige ekstra kostes deur vrywilligers volgemaak.

“AfriForum sal nie sit en toekyk hoe gemeenskappe gestraf word as gevolg van die wanbestuur van staatsorgane en munisipaliteite nie en ons sal nie skroom om op te tree indien hierdie drakoniese maatreëls weer in ander areas geïmplementeer sou word nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld.

Jy kan jou dorp help! Voeg jou naam hier by en gee AfriForum die mandaat om dieselfde in jou dorp te doen.

Soortgelyke plasings