|

Bethal-tak en ander rolspelers sorg vir water ná krane opdroog

Bethal en omliggende dorpe sukkel reeds sedert 21 Januarie met ’n water tekort nadat RandWater weens ’n stukkende transformator moes ophou om water na die Bloemendal-pompstasie te stuur. Dié water tekort het eers net dele van die dorp sonder water gelos en teen 24 Januarie was die hele dorp se krane kurkdroog – 11 dorpe word tans deur hierdie onderbreking geraak.

AfriForum se Bethal-tak het op 24 en 25 Januarie saam met plaaslike ondernemings en boere van die Bethal-omgewing gewerk om noodwaterpunte vol te maak asook water aan skole en ander noodsaaklike entiteite te verskaf. 

Verskeie gemeenskapslede het hulle eie boorgatwater beskikbaar gestel om te help en het selfs krane op hulle sypaadjies geïnstalleer. Boere het hulle tenkwaens ingespan om noodwaterpunte vol te maak en die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit het met AfriForum gekoördineer om klinieke se watertenks vol te hou.

AfriForum het ook ’n boorgat aan die munisipaliteit uitgewys wat jare terug gebruik is vir water in Bethal. Die munisipaliteit kan hierdie boorgat toerus as noodwaterpunt.

’n Nuwe noodwaterpunt is by die Gereformeerde Kerk Bethal in Kleijnhansstraat opgerig waarvoor AfriForum se Middelburg-tak vyf watertenks geskenk het. Daar is ook nog ’n noodwaterpunt by die AC Kerk in Regentlaan.

“Hierdie was ’n grootskaalse inisiatief wat opnuut gewys het waartoe ons as gemeenskap in staat is as ons veral in krisistye soos hierdie kan saamwerk om ’n oplossing te bekom,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings