|

Taalgemeenskappe is moeg vir taalgimnastiek soos dié van Nzimande, sê AfriForum

In reaksie op die jongste polemiek oor Afrikaans se status as inheemse taal en posisie in die taalbeleidsraamwerk vir hoër onderwysinstellings, beklemtoon AfriForum dat dit duidelik is dat taalgemeenskappe self verantwoordelikheid vir hulle tale se beskerming, groei en voortbestaan moet neem.

“Enigeen wat glo dat die ANC werklik ernstig oor meertaligheid in die land, of die bevordering van diversiteit is, is naïef,” meen Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake. Sy verwys na die feit dat geen openbare tersiêre onderwysinstelling meer alle kursusse in Afrikaans kan aanbied nie. “Ook waar instellings ander inheemse tale probeer akkommodeer en uitbou, het hulle uitdagings met befondsing. ’n Taalbeleidsraamwerk vir tersiêre instellings is nodig, maar van veel meer belang is ondersteuning aan die instellings om die uitvoering daarvan moontlik te maak.”

“In die negentigerjare van die vorige eeu kan die ANC se houding jeens inheemse tale (insluitend Afrikaans) as een van welwillende verwaarlosing beskryf word. Tans is dit egter een van die bevordering van Engels ten koste van alle ander tale – nie net in die onderwys nie, maar op alle regeringsvlakke en terreine. Nzimande se taalgimnastiek oor waar Afrikaans, Khoi- en Santale inpas, en die omstrede Bela-onderwyswetsontwerp is voorbeelde van die ANC se drang om eentalige Engelse onderrig af te dwing. Op ander terreine is instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (beter bekend as die Artikel 185-kommissie) en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie veronderstel om taalregte te beskerm, maar hulle word deur uitdagings soos onderbefondsing, kaderontplooiing en ’n gebrek aan uitvoerende magte gekniehalter,” voeg Bailey by.

Volgens Bailey is dit duidelik dat taalgemeenskappe wat ernstig oor hulle taalregte is, self moet inspring om eie onderriginstellings te vestig en hulle tale te bevorder. Sy meen aan die hand van verskeie onlangse akademiese byeenkomste dat hierdie gewaarwording in verskeie taalgemeenskappe in die land posgevat het en dat samewerking tussen gemeenskappe buite regeringsfere gedy.

“Dit beteken ook dat meer mense deur regeringsverteenwoordigers se lippediens oor die waarde van moedertaalonderrig, veeltaligheid en diversiteit sien en gaan saamspan om ministers soos Nzimande aanspreeklik vir hulle taalregteskendings te hou – ook met litigasie waar moontlik,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings