|

Teks-tak pak selfs in die winter skoonmaakaksies aan

AfriForum se Teks-tak het reeds vroeg in Julie volstoom aan die werk gespring en verskeie areas in Secunda skoongemaak. Altesaam vyf bakkievragte vol vullis is verwyder en daar blyk geen keer te wees aan dié tak se ywer nie.

Die Teks-tak het die oop area tussen Vaalrivier- en Frankfortstraat skoongemaak ná die gemeenskap hul misnoeë oor die toestand van hierdie area uitgespreek het – vier bakkievragte vol vullis is hier verwyder. Die strook is ongeveer 900m2 groot en was oorgroei met lang gras en onkruid. Dié area was ook ’n slaapplek vir kwaaddoeners as gevolg van die wegkruipplek wat die lang gras gebied het. 

Die tak het ook ’n skoonmaakaksie aangepak by Davieshof se gronde – dié perseel beslaan 12 000m2 . Taklede het ook ’n ekstra watertenk, wat deur ’n lid van die gemeenskap geskenk is, geïnstalleer om te help tydens water tekorte. Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is dit eintlik die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se verantwoordelikheid om die gronde te onderhou, maar dit blyk nie vir hulle ’n prioriteit te wees nie.

Nóg ’n bakkievrag vol vullis is verwyder ná die tak ’n stegie in Jansonstraat skoongemaak het. Hierdie stegie is ongeveer 500m2 groot.

Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, meen dat dienslewering in die dorp nou al vir te lank agteruitgaan. “Ons kan nie net arms gevou sit en wag vir die munisipaliteit om hul werk te doen nie. Ons moet self moue oprol en doen wat gedoen moet word as ons in ’n skoon dorp wil bly.”

Du Plessis moedig gemeenskapslede aan om betrokke te raak by AfriForum se Teks-tak by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings