|

Bothaville se AfriForum-buurtwag vang weer kabeldiewe

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het op 21 September weer die SAPD gehelp om kabeldiewe, waaronder Eskom-kontrakteurs, in twee afsonderlike voorvalle vas te trek.

In die eerste voorval wou ’n verdagte koperkabels aan ’n skrootwerf verkoop. Die SAPD en die buurtwag is gekontak en die verdagte is dadelik gearresteer.

In die tweede voorval, slegs ’n paar uur later, wou twee verdagtes koperkabels aan ’n ander skrootwerf verkoop. Weereens is die SAPD en buurtwag gekontak en twee persone is gearresteer. Tydens ondervraging is vasgestel dat die verdagtes kontrakteurs by Eskom is en dat die kabels Eskom-eiendom is.  

Die Bothaville-buurtwag was die afgelope twee maande betrokke by die arrestasie van 12 verdagtes wat koperkabels gesteel het. Die goeie samewerking tussen die SAPD, die buurtwag en die skrootwerwe maak hierdie arrestasies moontlik.

“Hierdie buurtwag gaan werklik van krag tot krag. Die samewerking tussen die SAPD, die buurtwag en die skrootwerwe maak dit vir die kabeldiewe baie moeilik. Groot dank aan die buurtwag,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Bothaville se AfriForum-buurtwag betrokke en help om jou eie veiligheid te verseker. Kontak vir Deon van Dyk by 084 588 5261.

Soortgelyke plasings