|

Tokologo-munisipaliteit moet nóú by Hertzogville-waterkrisis ingryp

AfriForum doen ’n dringende beroep op die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit om die watertoevoer na Hertzogville binne 48 uur te herstel. Die organisasie versoek ook die munisipaliteit om ’n vergadering met hom en ander rolspelers te belê om oplossings vir die probleem te bespreek. 

AfriForum het die Tokologo-munisipaliteit op 6 Augustus op terme geplaas nadat die plaaslike gemeenskap die organisasie om hulp genader het weens groot dele van Hertzogville wat al vir meer as 60 dae watertekorte ondervind. Die munisipaliteit stel ook net watertenkwaens in sekere dele van die dorp beskikbaar en boonop nie eers daagliks nie. Soms gaan ’n week verby waar daar geen tenkwaens in sig is om water aan die gemeenskap te versprei nie.

AfriForum het reeds op 4 Julie ’n brief aan die Tokologo-munisipaliteit gerig waarin versoek word om hierdie waterprobleem op te los, maar geen terugvoer is egter ontvang nie. Verder verskaf die munisipaliteit ook nie ’n geldige rede waarom die dorp nie water het nie. 

In sy jongste brief versoek AfriForum die munisipaliteit ook om ’n werkbare aksieplan voor te lê van hoe die waterinfrastruktuur verbeter en wat gedoen gaan word om ’n waterkrisis in die toekoms te voorkom. AfriForum vra ook dat die munisipaliteit inwoners moet verseker dat watertenkwaens daagliks en in die hele dorp beskikbaar sal wees.

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit geen haas het om hierdie waterkrisis op te los nie.  Geen gemeenskap kan sonder water funksioneer nie, daarom moet die munisipaliteit hul pligte nakom en water aan die gemeenskap beskikbaar stel. Die gemeenskap sukkel om hul daaglikse take sonder water te verrig en die munisipaliteit skitter in sy afwesigheid om enige iets aan die saak te doen. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat die watertoevoer eens en vir altyd herstel word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die Tokologo-munisipaliteit het tot 13 Augustus om op AfriForum se eise te reageer.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en help om probleme in jou omgewing op te los. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings