| | |

NUWE COVID-19-REGULASIES WAT TOEGANG TOT STRANDE BEPERK IS ONGRONDWETLIK

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n mosie by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien om COVID-19 Regulasie 69(12)(a), (b), (c) en (d) ongrondwetlik te laat verklaar. Hierdie regulasie bepaal onder meer dat alle strande in die Oos-Kaap, asook in die Tuinroete van 16 Desember tot 3 Januarie gesluit sal wees. Dit bepaal ook dat alle strande in KwaZulu-Natal op 16, 25, 26 en 31 Desember, asook 1 tot 3 Januarie gesluit sal wees.

Volgens AfriForum kom die beperking van toegang tot strande, wat openbare eiendom is, neer op ’n beperking van ’n basiese mensereg. Ingevolge die Grondwet mag ’n basiese mensereg soos die vryheid van beweging slegs beperk word indien dit eerstens regverdigbaar is en tweedens deur algemeen geldende wetgewing ondersteun word. Die regering kan dus nie verskillende reëls vir verskillende strande maak nie aangesien dit nie regsbeginsels met algemene gelding is nie. Die burgerregteorganisasie stem wel saam dat massabyeenkomste op strande verbied moet word aangesien daar tydens hierdie byeenkomste geen sosiale afstand gehandhaaf word nie.

“Dit is ongrondwetlik en diskriminerend om sekere strande te sluit gegewe die geweldige ekonomiese impak wat dit veral op die kusdorpe gaan hê, wat reeds heeljaar baie swaargekry het weens die inperkingsregulasies. Die Desember-vakansie is ’n geleentheid om hul ekonomieë tot ’n mate te herstel en die sluit van strande gaan lei tot geweldige, onherstelbare skade vir die sakelui in hierdie dorpe,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte.

“Om strande te besoek is ’n vorm van vermaak wat in die opelug plaasvind en mense blootstel aan die son wat bydra tot ’n gesonde immuunstelsel. Die alternatief is dat mense hulself tot plekke soos winkelsentrums en restaurante gaan wend wat ’n baie hoër risiko inhou vir die verspreiding van die virus,” sluit Taute af.

Soortgelyke plasings