|

Uitvoerende hoof deel bemoedigende boodskap met Oudtshoorn-taklede

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die Oudtshoorn-tak op 26 Februarie 2020 tydens hul algemene jaarvergadering toegespreek. Kriel het aan taklede gesê hy het, soos baie ander mense, veel meer hoop en geloof in die toekoms as 20 jaar gelede.

“AfriForum is 14 jaar gelede met slegs drie werknemers op die been gebring. As jy tóé vir my gesê het die organisasie sal in 2020 met bykans 240 000 lede en 170 werknemers spog, sou ek jou moeilik geglo het. Mans en vroue het vandag, ondanks negatiewe gebeure, bakens van hoop in hul gemeenskappe geword. Die kern van AfriForum se sukses lê in drie eienskappe, naamlik dat ons roepingsgedrewe is, dat ons ’n werkbare plan het en dat ons weet hoe om hierdie plan uit te voer,” het Kriel tydens die vergadering gesê.

Johan Conradie, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, het almal aan AfriForum se veg-en-bou-strategie herinner, wat beteken dat ons ewe hard aan ’n toekoms vir ons kinders en kleinkinders moet bou as wat ons teen ongeregtigheid en korrupsie veg. Raadslede Johan Fourie en George Kersop het ook die kwessies oor die Blossoms-waterprojek en toekomstige behuisingsprojekte met die gemeenskap kom deel.

“AfriForum se Oudtshoorn-tak wil graag saam met die gemeenskap werk om volhoubare selfdoenprojekte te begin. Met goeie spanwerk en geesdrif kan elke gemeenskap bo sy omstandighede uitstyg en die dorp ’n beter plek vir almal maak. Dit is daarom noodsaaklik dat die gemeenskap by die tak betrokke raak en positiewe gesprekke soos hierdie bywoon,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum se Oudtshoorn-tak nooi die gemeenskap uit om by hul projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Oudtshoorn” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings