|

AfriForum-tak in Centurion sit goeie werk voort

Die AfriForum-tak in Centurion is hard aan die werk om veranderinge in Centurion aan te bring.  Die tak het gedurende die jaar al meer as 60 projekte aangepak.

Ná volgehoue druk deur AfriForum is die waterlek in Furmanpark in Valhalla uiteindelik herstel. Hierdie waterlek is al vir meer as vier maande gelos en derduisende liters water is al vermors. AfriForum het talle skrywes aan die Tswhane Metro gerig en die waterlek is op 19 Oktober herstel. Hoewel dit ’n verligting is dat die waterlek herstel is, is dit onaanvaarbaar dat ’n waterlek van hierdie grootte gelos word om water te mors terwyl daar gebiede is wat gebukkend gaan onder watertekorte en beurtwater.

Die Centurion-tak se tuinspan het ook onlangs die middelmanne en sypaadjies in Jeanlaan skoongemaak. Die tak het bossies uitgetrek, gras gesny en vullis verwyder. Daar is ook ’n kontrakteur in die Highveld-area wat weekliks sorg dat die area skoon en netjies bly. 

“Ons wil graag die gemeenskap uitnooi om hande te vat met AfriForum se Centurion-tak.  Daar is baie werk wat nog gedoen moet word en as ons saamwerk kan ons soveel meer bereik,” sê André de Bruyn, AfriForum se takvoorsitter in Centurion.

“AfriForum sal voortgaan om projekte aan te pak om die gemeenskap en omgewing vir almal te verbeter.  Dit is belangrik dat die owerhede hul pligte nakom en AfriForum sal aanhou om druk toe te pas waar dit nodig is.  Ons wil graag elke persoon bedank wat dit moontlik maak om hierdie tipe projekte aan te pak,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan reeds hulle volgende groot aksies en projekte en wil die gemeenskap uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou en om by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings