|

Valse rassisme-bewerings: AfriForum se privaatvervolgingseenheid is reg om vir die waarheid te veg

AfriForum het vandag ’n platform bekendgestel waar diegene wat al valslik van rassisme beskuldig is dié organisasie om hulp kan vra. Dit blyk dat aantygings van valse rassisme toeneem in Suid-Afrika. Gefabriseerde weergawes van gevalle van sulke rasgebaseerde diskriminasie dra dieselfde gevolge as bona fide gevalle, en is kwetsend, oneerbiedig en kan ’n persoon se waardigheid ondermyn.

Om in Suid-Afrika van rassisme beskuldig te word is waarskynlik een van die ergste etikette wat op ’n persoon geplaas kan word, veral wanneer hierdie aantygings in die publieke oog afspeel. Die sosiale en ekonomiese gevolge is dikwels vinnig – die persoon wat aangekla word, word uitgewerp, geïsoleer en aan aanlyn mishandeling onderwerp, insluitend doodsdreigemente, en word dikwels werkloos en onindiensneembaar gelaat. Hierdie situasie kan binne enkele dae afspeel, soms ure, afhangende van hoe vinnig die inhoud wat die gedrag uitbeeld, of die bewering self, op sosiale media en elders versprei.

Daar moet geen plek vir diskriminasie of haat in Suid-Afrika wees nie en bona fide gevalle van rassisme moet ten sterkste veroordeel word. Persone moet opstaan ​​teen sulke optrede in enige vorm.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is egter bereid om mense te help waar dit bewys kan word dat die bewering van rassisme in werklikheid vals is. Hierdie platform bied ook riglyne vir die publiek om regstappe te doen in gevalle van valse rassisme.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê dat dit noodsaaklik is om te praat. “Valse bewerings van rassisme het ewe skadelike sosiale en ekonomiese gevolge vir diegene wat geïmpliseer word. Dikwels is geen bewyse van die beweerde oortreding nodig vir sulke bewerings om as die waarheid aanvaar te word nie en enige beswaar dat sulke bewerings vals is of as daar nie genoegsame bewyse is nie, word voorgehou as bevestiging van ’n persoon se skuld.”

“Die onus is dan op die beskuldigde om hul onskuld te bewys terwyl die sogenaamde slagoffer se weergawe as die enigste waarheid aanvaar word en onbetwis bly. Hierdie Kafka-agtige situasie dwing dan hierdie mense om stil te bly oor die onreg wat teen hulle gepleeg word,” sluit Bateman af.

“Geen persoon verwag redelikerwys van ’n ander om skuld te aanvaar en te boet vir ’n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie. Tog is dit presies wat gebeur wanneer valse bewerings van rassisme teen ’n persoon gemaak word. Ons wil graag hierdie tendens in die kiem smoor,” voeg Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, by. 

AfriForum se privaatvervolgingseenheid moedig mense wat slagoffers van hierdie tendens geword het of weet van iemand anders met wie dit gebeur het, om hul stem op hierdie platform te laat hoor. Besoek die platform hier.

Soortgelyke plasings