|

AfriForum se Sasolburg-buurtwag help polisiestasie en gemeenskap

Die Sasolburg-buurtwag het verlede week die plaaslike polisiestasie gehelp deur drie nuwe buisligte te installeer – een in die gemeenskapsdienssentrum en twee in die aanklagkantoor.

Dit volg nadat dié stasie se 50-jaaroue kragopwekker onklaar geraak het en daar nie onderdele beskikbaar is nie. ’n Klein kragopwekker van 5 kVa is in die mobiele aanklagkantoor gebruik vir lig, maar die beligting was swak. AfriForum se buurtwag in Sasolburg het die behoefte vir nuwe ligte raakgesien en nuwe buisligte, wat ook op die kragopwekker werk, geїnstalleer. Kol. Marike Galant, die stasiebevelvoerder, was baie opgewonde en dankbaar oor die groot verskil wat die ligte maak.

Gedurende April het die buurtwag in samewerking met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verskeie aksies uitgevoer. Op 6 April is ’n gesamentlike patrollie gehou en ’n voertuig-deursoekpunt beman. ’n Ernstige ongeluk is ook hanteer totdat nooddienste op die toneel aangekom en oorgeneem het.

Op 13 April het die buurtwag die SAPD by ’n padblokkade gehelp met ’n onwettige immigrant, 17 dronkbestuurders, ’n onpadwaardige voertuig en die arrestasie van ’n persoon in besit van dwelms.

Gedurende die nasionale patrollie op 14 April het die buurtwag saam met ander rolspelers die volgende suksesse behaal en verskeie mense aangekeer: 18 persone wat dronk in die openbaar was, drie onwettige immigrante, vier vir die smokkel van onwettige sigarette en twee wat die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels oortree het deur ’n winkel as ’n woonplek te gebruik. Drie onpadwaardige voertuie is ook voorgekeer en hulp is op ’n ongelukstoneel verleen.

Op 21 April tydens die buurtwag se weeklikse patrollie saam met die SAPD is twee tavernes besoek en vir onwettige handel beboet. Dronkbestuurders is aangekeer en woongebiede wat as misdaadbrandpunte geïdentifiseer is, is gepatrolleer.

“Die buurtwag raak toenemend betrokke en werk goed saam met die SAPD. Dit is baie positief dat hierdie twee instansies mekaar onderskraag. Ek moedig elke inwoner van Sasolburg aan om by dié buurtwag betrokke te raak,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.

Volgens Johan Potgieter, buurtwagleier van Sasolburg, is die goeie opkoms met elke aksie van die buurtwaglede en samewerking van die plaaslike SAPD die rede tot sukses. Sonder hierdie span en hul spangees sal daar geen sukses wees nie. “Elke lid doen sy of haar deel met geesdrif en ek bedank elkeen,” sluit Potgieter af.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak. Indien jy graag by die Sasolburg-buurtwag se projekte betrokke wil raak, kontak Johan by 082 337 5983.

Soortgelyke plasings