Verlenging van Covid-19-toelaag niks meer as ’n verkiesingsfoefie nie

Die burgerregteorganisasie AfriForum beskou die plan om die tydperk vir die uitbetaling van die omstrede R350 Covid-19 maatskaplike noodverligtingstoelae tot in 2024 te verleng as niks meer as ’n verkiesingsfoefie nie. AfriForum hou vol dat die uitbetaling van hierdie toelae veral nie verleng moet word nie, aangesien dit ’n uitgawe is wat die regering eenvoudig nie kan bekostig nie. Die organisasie het skriftelike kommentaar by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien om hierdie plan teen te staan.

In sy onlangse begrotingstoespraak het Enoch Godongwana, die minister van Finansies, die dreigende kwessie van die regering se groot en groeiende begrotingstekort erken. Hierdie tekort is hoofsaaklik te wyte aan ’n oormaat staatsuitgawes, waarvoor daar geen fondse beskikbaar is nie as gevolg van faktore soos ongebreidelde korrupsie, spandabelrigheid en wanbestuur van fondse. Die Covid-19-maatskaplike noodverligtingstoelae van R350 per maand is een van hierdie oormatige uitgawes wat die regering eenvoudig nie kan bekostig om vir langer as die tydperk waarvoor dit bedoel was te betaal nie.

Die toename in armoede en werkloosheid wat die afgelope paar jaar waargeneem is, het minder met die Covid-19-pandemie te doen gehad, en meer te doen met die regering se vernietigende, verstikkende en dikwels wisselvallige inperkingsbeleide en die korrupsie en plundering wat met hierdie beleide verband hou en ongestraf bly. Die wortel van die onderhawige probleem gaan veel dieper as bloot ’n virus, en die aard van die probleem beteken dat die Suid-Afrikaanse regering nie daarin sal slaag om dit deur geldelike aalmoese op te los nie – veral nie aalmoese wat die regering nie kan bekostig nie.

“Met die nasionale verkiesings wat in 2024 plaasvind, kan ’n mens nie anders as om die ANC-regering se druk om die tydperk van betaling vir hierdie toelae na 2024 te verleng te interpreteer as ’n verkiesingsfoefie om stemme te behou nie. Dit is nie bloot ’n spekulasie nie, maar eerder ’n opgevoede waarneming wat gewortel is in ervaring en die ANC-regering se eie uitgebreide rekord in hierdie verband,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die enigste manier waarop die ANC moontlik aan mag kan vasklou, is deur die massiewe regeringstelsel van patronaat wat hulle oor die dekades opgebou het. Dit is ’n wrede stelsel wat meer as 50% van Suid-Afrika se bevolking in staatsafhanklikheid vasgevang het. Die Covid-19-maatskaplike noodverligtingstoelae is net nog ’n siniese rat in hierdie verkiesingsmasjien,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings