|

Cele moet waai: Polisieminister bewys weereens sy onbevoegdheid

Bheki Cele, die minister van Polisie, het al telkemale bewys dat hy onbevoeg is vir sy pos. Onder sy leiding het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ooglopend verswak. Hy is al self by korrupsieskandale betrek – hoe kan daar dan verwag word dat polisiebeamptes op voetsoolvlak hul hande gaan skoon hou as die SAPD se politieke hoof dit nie eers doen nie?

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis dus opnuut dié minister se afdanking nadat Cele se ongeskiktheid vir hierdie pos verder bevestig is. Dit volg nadat hy vandeesweek aangekondig het dat meer as 7 000 polisiebeamptes oor die afgelope vyf jaar in hegtenis geneem is vir misdade wat moord, ontvoering, verkragting en transitorooftogte insluit.

Maar van die duisende wat in hegtenis geneem is, is minder as 10% suksesvol vervolg.

Die SAPD veg al lank interne oorloë weens politieke inmenging en die betrokkenheid van sy eie lede by misdadige aktiwiteite.

“Hier is duidelik ’n ernstige probleem. Óf die Nasionale Vervolgingsgesag doen ’n droewige werk om SAPD-lede wat by misdade betrokke is, te vervolg óf SAPD-lede arresteer ander SAPD-lede sonder goeie rede,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Korrupsie in die polisiemag is ook ’n groot uitdaging, so ek sal nie verbaas wees as die vervolgingsyfer so laag is as gevolg van inmenging in ondersoeke, dossiere wat verdwyn of getuies wat geïntimideer word nie,” gaan Broodryk voort.

Om olie op die vuur te gooi, het die jongste Global Organised Crime Index wat Dinsdag vrygestel is, gewys dat Suid-Afrika die sewende hoogste in die wêreld is uit 193 lande en die derde hoogste in Afrika wat georganiseerde misdaad betref.

“Die feit dat Cele steeds in sy posisie as minister van Polisie is, is ’n duidelike aanduiding dat die ANC-regering sy eie kaders bo die burgers van hierdie land prioritiseer. Gemeenskappe sal by burgerlike veiligheidstrukture betrokke moet raak om hierdie vlaag van misdadigheid te help stuit,” sluit Broodryk af.

Raak betrokke by jou naaste AfriForum-buurtwag deur www.afriforumbuurtwag.co.za te besoek.

Klik hier om Bheki Cele se afdanking te eis.

Soortgelyke plasings