|

Verlof tot appèl in Koster-minagtingsaansoek toegestaan

Regter A.J. Mahlangu van die Noordwes Hooggeregshof het gister verlof tot appèl toegestaan nadat sy op 19 Mei 2021 bevind het dat Joseph Mogale, die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit, nie skuldig is aan minagting van die hof nie. Dit volg nadat Mogale klaarblyklik geen poging aangewend het om die water- en rioolwerke in Koster reg te ruk nie en versuim het om aan spesifieke bepalings van ’n hofbevel te voldoen. ’n Volbank regters van die hooggeregshof in Mahikeng sal nou die beslissing heroorweeg.

Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid namens die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) stukke opgestel het om aansoek te doen om verlof tot appèl en ook die saak in die hooggeregshof geargumenteer het. Regter Mahlangu het ook in Mei verlede jaar beslis dat die KBI die water- en rioolaanlegte in Koster en Swartruggens aan die munisipaliteit moet teruggee. AfriForum ondersteun ook die KBI in hierdie hofsaak. Sy het besluit om die appèlaansoek op stukke te beoordeel en dit was dus nie nodig vir die partye om te argumenteer nie.

Adv. Gerrie Nel, adv. Phyllis Vorster en Wico Swanepoel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree op namens die KBI. Die privaatvervolgingseenheid het in Maart 2021 hofaksie ingestel om uitvoering te gee aan die hofbevel waarin die hooggeregshof in Mmabatho ’n opgeskorte vonnis van 90 dae tronkstraf aan die munisipale bestuurder opgelê het omdat hy en die munisipaliteit na bewering dieselfde hofbevel geminag het.

“Ons verwelkom die regter se toestaan van verlof tot appèl aangesien ons van mening is dat daar ’n sterk saak is teen die munisipale bestuurder. Ons kan nie toelaat dat munisipale amptenare bloot wegkom met die verontagsaming van hofbevele nie. Daarom sal ons die KBI ook bystaan met die appèlsaak om te verseker dat geregtigheid en die oppergesag van die reg seëvier. Ons is vol vertroue dat die hof sal bevind dat die respondent hom wel skuldig gemaak het aan minagting van die hof,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is dié verwikkeling positief, veral omdat dit die gebruik is dat bevele hangende ’n appèlaansoek opgeskort word tot tyd en wyl die appèluitspraak gegee word. “Dit kan tot gevolg hê dat Pionier en die KBI weer beheer sal kry oor die water- en rioolaanlegte en hierdie dienste na behore sal kan bestuur.”

Soortgelyke plasings