|

VERMEENDE MOORDENAAR UITEINDELIK IN HOF NÁ VOLGEHOUE DRUK

’n Moordverdagte het vandag uiteindelik in die hof verskyn ná volgehoue druk deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het sy aanvanklike besluit om nie die beskuldigde in ’n moordsaak te vervolg nie, omgekeer nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid die klaer in dié saak bygestaan het.

Die klaer in die saak se man is in Januarie 2020 in Richardsbaai doodgeskiet en sy het self ook ’n skietwond aan haar hand opgedoen.

Die klaer en haar man het op 26 Januarie 2020 ’n oproer in die buurt opgemerk en ondersoek gaan instel. Die beskuldigde het ’n skoot afgevuur wat tot die klaer se man se dood gelei het. Dieselfde koeël het die klaer in haar hand getref. Die vermeende moordenaar het in dieselfde buurt as die slagoffers gewoon.

Die oorledene se familie het weens die voorval besluit om na die VSA te emigreer. Die SAPD het die misdaad ondersoek, maar die NVG het aanvanklik versuim om te vervolg. Dít ondanks die feit dat die polisieondersoek bevind het dat die koeël en gebruikte patroon wat op die toneel gevind is deur ’n vuurwapen afgevuur is wat in die beskuldigde se naam geregistreer is.

AfriForum het die klaer bygestaan deur ’n aansoek te bring vir ’n nolle prosequi-sertifikaat, waarna die NVG sy besluit om nie te vervolg nie omgekeer het.

“Soms dink ’n mens jy kan nie meer geskok word deur die SAPD en die NVG se traak-my-nieagtige houding as dit by sekere sake kom nie, maar dan gebeur só iets. Daar is duidelike bewyse dat die beskuldigde die dood van die slagoffer veroorsaak het en die ballistiese toetse wys dan selfs dat dit sy vuurwapen is wat in die voorval gebruik is. Tog het die owerhede besluit om nie te vervolg nie, totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het en toe ewe skielik besluit hulle om voort te gaan. Dit is uiters teleurstellend,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van Veldtogte.

Die saak is uitgestel tot 30 Julie 2021.

Soortgelyke plasings