|

AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Laerskool Northmead

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 22 Mei die Laerskool Northmead in Benoni besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Bewusmaking van boeliegedrag in skole is van kardinale belang aangesien dit ’n veilige en inklusiewe leeromgewing vir leerders skep. Deur bewustheid van boeliegedrag te verhoog, word leerders en personeel beter toegerus om gevalle van afknouery te herken, te voorkom en te takel. Die bevordering van empatie, respek en begrip bevorder ’n positiewe omgewing, wat leerders in staat stel om akademies, emosioneel en sosiaal te floreer terwyl hulle die vaardighede ontwikkel wat nodig is vir respekvolle en samewerkende interaksies regdeur hul lewens,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap – nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – dus om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Dit is baie belangrik om die bewusmaking van boeliegedrag by skole onder die leerders se aandag te bring, omdat dit ’n ernstige saak is wat leerders op verskillende maniere beïnvloed. Die bewusmaking van boeliegedrag kan die leerders leer hoe om boelies te identifiseer en waar om dit te rapporteer. Dit help ook die leerders om beter met onderwysers, ander leerders en ouers te kommunikeer, sodat die saak reg hanteer kan word. Leerders moet die term boelie reg verstaan,” sê Bianca Haasboek, grondslagfase-onderwyseres by die Laerskool Northmead.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings