|

Vermeende politieke sluipmoordenaar nog op vrye voet ná misdaadintelligensie se weiering om privaatvervolgingseenheid te betrek

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het potensiële noodsaaklike inligting bekom wat die ondersoek na die polities gemotiveerde sluipmoord op Nhlalayenza Ndlovu, Demokratiese Alliansie (DA)-raadslid, kan oplos. Genl.maj. Dumisani Khumalo, hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadintelligensie-eenheid, het egter alle kommunikasie met die privaatvervolgingseenheid gestaak ondanks dié eenheid se gretigheid om die polisie by te staan. Dit laat vrae ontstaan oor die polisie se bereidwilligheid om politieke moorde te ondersoek waarby lede van die opposisieparty betrokke is en waar slagoffers nie bondgenote van die regerende party of sy politieke bedmaats is nie.

Ndlovu, hoofsweep in die uMngeni Plaaslike Munisipaliteit in KwaZulu-Natal, is op 4 Desember verlede jaar voor sy vrou en kinders doodgeskiet. Hy is meer as tien keer geskiet. Die meerderheid van die skote is afgevuur terwyl hy hulpeloos op die vloer van sy huis gelê het. Die DA se onafhanklike taakspan het die privaatvervolgingseenheid in Januarie as sy operasionele vennoot aangewys om die ondersoek na Ndlovu se moord te lei. Die eenheid is ook formeel versoek om ondersteuning en regsbystand aan die Ndlovu-familie te verleen.

Die eenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel en ’n span gespesialiseerde ondersoekers, het sedert Januarie uitgebreide konsultasies gedoen en talle belowende leidrade in die uMngeni-gebied opgevolg. Nel en sy span het tydens ’n vergadering met Khumalo op 13 Maart hul bereidwilligheid uitgespreek om saam met die polisie te werk. Ongelukkig het Khumalo intussen alle kommunikasie met die eenheid gestaak en weier om, ten spyte van die verpligting wat daartoe op die polisie berus, Ndlovu se weduwee en gesin, op die hoogte van die ondersoek se vordering te bring.

In ’n brief aan Khumalo, gedateer 19 Maart, het Nel die aard van die bogenoemde vergadering soos volg opgesom: “Die oënskynlike onwilligheid om ’n samewerkingsverhouding te bevorder om hierdie gevoellose sluipmoord op te los, is teleurstellend […] Ten spyte van die aanduiding dat ons dalk met die ondersoek kan help omdat ons toegang het tot inligting van persone wat die polisie self wantrou, is daar geen belangstelling getoon nie. Dit het duidelik geword dat daar geen voorneme is om van die gekose ‘ondersoekplan’ af te wyk nie. Die vergadering het die gevolgtrekking aangewakker dat die SAPD meer gemoeid is met die beheer van ondersoeke en ’n narratief as om hierdie spesifieke moord op te los,” het Nel gesê.

Die SAPD het op 11 April ’n openbare beroep gedoen op die opsporing van Zwelithini Buthelezi, ’n indoena in die Mpophomeni-omgewing, in verband met ’n moord en poging tot moord in die dorp Impendle in KwaZulu-Natal. Dié beroep volg nadat Buthelezi versuim het om in die Howick-landdroshof te verskyn. Buthelezi staan tereg op ’n aanklag van diefstal van transformators wat deur die uMngeni-munisipaliteit besit word.

Wat die beroep egter nie openbaar het nie, is dat Buthelezi wel weke vantevore deur die SAPD in hegtenis geneem is, maar dat die staat nie sy aansoek om borg teengestaan het nie. Indien Khumalo ingestem het om met die privaatvervolgingseenheid saam te werk, sou Buthelezi ’n noukeurige ondersoek in die gesig gestaar het op aanklagte wat verband hou met Ndluvo se moord.

“Dit dui daarop dat die SAPD óf hul inligting van die vervolging weerhou het óf, ondanks die feit dat ons kliënte ingelig is dat die diefstalsaak gebruik is om Buthelezi te teiken, geensins nader daaraan was om enige misdaad op te los nie en die span net na strooihalms gegryp het. Ons herhaal die sentiment wat in ons vroeëre brief uitgespreek is dat die SAPD verplig is om die samelewing te dien en te beskerm en alle sake sonder vrees, guns of vooroordeel te ondersoek. Ons beklemtoon dat hierdie plig nie die SAPD toelaat om die ondersoek van sake te ontduik waar die slagoffers nie bondgenote van die regerende party is nie,” sluit Nel af.

Die eenheid het genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sedertdien ingesluit in kommunikasie aan Khumalo. “Ons herinner onsself daaraan dat die SAPD, wat indoena Buthelezi ’n paar weke gelede in hegtenis geneem het, hom vrygelaat het sonder om borgtog teen te staan,” het Nel op 19 April in ’n brief gesê.

Dit is nie verbasend dat daar geen reaksie van die kommissaris van die SAPD was nie. Dit blyk ook dat Khumalo steun het vir sy besluit om nie die slagoffer se familie op hoogte van die vordering van die ondersoek nie te hou nie en om selektief te besluit watter inligting en/of bewyse hulle in die dossier gaan versamel.

Die eenheid sal voortgaan om te poog om met die polisie in gesprek te tree, maar sluit nie die moontlikheid uit om hof toe te gaan om die owerhede te dwing om hul pligte uit te voer nie.

Soortgelyke plasings