|

Vervolging van ‘dronk’-bestuurder begin in Desember ná privaatvervolgingseenheid ingryp

Die verhoor van Tasmin Wells op twee klagtes van strafbare manslag sal na verwagting van 6 tot 8 Desember 2021 in die Middelburgse Streekhof plaasvind. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Augustus 2020 aan die Nasionale Vervolgingsgesag geskryf om navraag te doen oor waarom niemand (tot op daardie stadium) vervolg is vir die dood van Alet Herbst (75) en Lina Lukele (51) nie.

Herbst en Lukele het in Oktober 2018 in Walter Sisulu-straat in Middelburg gesterf toe Wells se motor vanuit die aankomende baan voor hulle ingeswaai en die noodlottige ongeluk veroorsaak het. Albei vroue is op slag dood en Herbst se liggaam is as gevolg van die impak uit die voertuig geslinger. Alhoewel die voorval reeds in 2018 plaasgevind het, was daar geen vordering met die saak nie totdat die privaatvervolgingseenheid namens Pikkie Fourie, Herbst se dogter, betrokke geraak het.

Volgens weergawes wat na vore gekom het, was Wells vermoedelik onder die invloed van alkohol toe sy die ongeluk veroorsaak het. Daar is ook bewerings dat die SAPD aanvanklik versuim het om ooggetuies se weergawes te kry en die ondersoek behoorlik te doen.

“Dit is jammer dat dit so lank geneem het om die beskuldigde te vervolg in ’n eenvoudige saak soos hierdie. Nietemin, verwelkom ons die vervolging van die beskuldigde en hoop dat dit berusting vir die geliefdes van die slagoffers sal bring. Gevalle soos hierdie beklemtoon weer eens die privaatvervolgingseenheid se rol om druk toe te pas om te verseker dat beskuldigdes vervolg word,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings