Vicki Momberg-vonnisoplegging bevestig dubbele standaarde in Suid-Afrika met betrekking tot ras


Die burgerregte-organisasie AfriForum beskou die vonnisoplegging van twee jaar tronkstraf vir Vicki Momberg as ’n herbevestiging van die dubbele standaarde in Suid-Afrika, veral met betrekking tot ras.
Momberg, ’n onbekende eiendomsagent wat nie politieke invloed het nie, is skuldig bevind aan vier klagtes van crimen injuria op grond van rassistiese uitsprake wat sy in 2016 teenoor swart mense gemaak het. Hierdie vonnis word opgelê enkele dae nadat ’n majoor in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bloot oor die vingers getik is nadat hy gesê het dat wit mense se oë en tonge uitgesteek moet word. AfriForum het ook in die afgelope jaar 113 strafregtelike klagtes ingedien teen mense wat moord, verkragting, aanranding en selfs volksmoord teen wit mense in die openbaar aanhits. Tot op hede is geen noemenswaardige vordering met hierdie sake gemaak nie. Enkele dae nadat Julius Malema, EFF-leier, egter in die openbaar opmerkings oor die volksmoord van wit mense gemaak het, het pres. Cyril Ramaphosa gesê dat hy graag vir Malema in die regerende ANC terug sal verwelkom.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat Momberg se uitsprake inderdaad rassisties was en veroordeel moet word.

“Die inkonsekwentheid wat in hierdie land met betrekking tot minderhede toegepas word, het egter die vlak van absurditeit bereik. Die werklikheid in Suid-Afrika is dus dat ’n wit persoon wat ’n swart persoon beledig tronk toe gaan, terwyl ’n senior offisier in die weermag wat sê dat wit mense se oë en tonge uitgesteek moet word, mooi gevra word om dit nie weer te sê nie. Boonop word ’n invloedryke politieke leier wat volksmoordpraatjies maak, beloon met ’n uitnodiging om by die regerende party aan te sluit.”

Soortgelyke plasings