|

AfriForum en VUKO versoek gemeenskappe om Sensus 2022 te gebruik om kulturele identiteit en nierassigheid te bevorder

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die amaNdebele belangegroep Vulamehlo Kusile Organisasie (VUKO) het ’n veldtog van stapel gestuur om die korrekte vaslegging van kulturele- en taalwerklikhede in Suid-Afrika te bevorder. Die organisasies moedig gemeenskapslede aan om aktief aan Statistiek SA se Sensus 2022 deel te neem en om hul huistaal korrek aan te dui, asook om hul kulturele identiteit pleks van ras aan te dui.

Die organisasies wil gemeenskapslede aanmoedig om nie die voorafgespesifiseerde raskategorie te kies nie, maar om die “ander”-opsie te kies en dan die kultuurgroep waaraan die persoon behoort in die spasie wat voorsien word aan te dui. Mense moet ook hul huistaal korrek aandui en die persoon moet aandui indien hul huistaal nie op die lys genoem word nie.

“Ons moet van ’n rasgebaseerde narratief en samelewing wegbeweeg. Die werklikheid in Suid-Afrika is dat daar baie verskillende kultuurgroepe is. Deur ras te gebruik is nie net fundamenteel verkeerd nie, maar dit skets ook ’n onakkurate prentjie van die komplekse werklikheid op voetsoolvlak. Hoe kan ons steeds verwag dat mense hulself in rasgroepe moet klassifiseer as rasklassifikasie afgeskaf is,” sê Barend Uys, AfriForum se hoof van interkulturele samewerking.

“AmaNdebele is konstant in ’n geveg om nie soos tweedeklas burgers in ons land van geboorte behandel te word nie. IsiNdebele ontvang nie die respek en verteenwoordiging wat dit in die openbare uitsaaiwese en by opvoedingsinstellings verdien nie. Gemeenskappe kan daartoe bydra dat hul inherente waardigheid gerespekteer en beskerm word deur hul huistaal en kulturele identiteit eerder as ras tydens vanjaar se sensusopname korrek aan te dui,” sê Elias Mahlangu, sekretaris van VUKO.

“Dit is werklik belangrik vir gemeenskapslede om aan die sensus deel te neem en hul huistaal korrek aan te dui. Die belang en omvang van ’n spesifieke taal word met die sensus bepaal. Sensusinligting het daarom ’n impak op departemente en instellings se taalbeleid – verkeerde inligting sal ’n direkte impak op ’n taalgroep en moontlike litigasie hê indien diskriminasie plaasvind. Dit is in die belang van geletterdheid en onderrig om te verseker dat kinders vir so lank as moontlik toegang het tot moedertaalonderrig en korrekte sensusinligting sal die nodige ondersteuning bied vir enige eise in die verband,” sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.

“Ons doen ’n beroep op alle amaNdebele en lede van ander kulturele en tradisionele gemeenskappe om saam met ons te span in die soektog na ’n nierassige toekoms waar kultuur en taal behoorlik erken word,” sluit Mahlangu af.

Soortgelyke plasings