Malema nie vrygespreek nie; getuig in aanrandingsaak

Die aanrandingsverhoor van Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, waarin die burgerregteorganisasie AfriForum ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag optree, het vandag in die Randburgse Landdroshof hervat. Malema en Ndlozi staan tereg op aanklagte van aanranding op ’n SAPD-kolonel. Die insident het in 2018 plaasgevind ná Malema se voertuig toegang tot Winnie Mandela se begrafnis geweier is. Die verdediging se aansoek, ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet, dat die beskuldigdes vrygespreek moet word op grond van onvoldoende bewyse aan die einde van die staat se saak, is deur die hof van die hand gewys. Die hof het bevind dat die video beeldmateriaal prima facie bewyse van aanranding lewer. Hierna is Malema deur die verdediging geroep om te getuig. Hy het getuig dat sy optrede op die dag redelik en regverdigbaar is as gevolg van die unieke omstandighede van die insident en dat die enigste misdaad wat hy gepleeg het was om “[sy] ma te probeer begrawe.” Die verhoor sal in Julie hervat.

Die saak is uit die staanspoor vertraag as gevolg van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se huiwering om te vervolg. Hierdie huiwering het AfriForum gemotiveer om ’n mandamus-aansoek in te dien om die NVG te dwing om ’n besluit te neem of hy die betrokke individue gaan vervolg. Eers hierna het die NVG aangekondig dat hy gaan vervolg. Die verhoor is toe verder uitgestel as gevolg van kommer oor die gesondheidsrisiko’s van die beskuldigdes gedurende die Covid-19-pandemie. Toe die verhoor uiteindelik hervat het in 2022 kon die staat se finale getuie herhaaldelik nie getuig nie en mediese sertifikate is ingedien, die klagstaat het ook verlore geraak maar is later gevind. Die EFF het ook op die hofperseel politieke saamtrekke gehou tydens die hof verrigtinge.

Benewens die aanrandingsklagte het AfriForum se betrokkenheid ook daartoe gelei dat Malema vanjaar op nóg twee aanklagtes teregstaan. AfriForum het ’n klag gelê by die hooggeregshof ná EFF ondersteuners in 2020 “Kill the Boer, Kill the Farmer” gesing het buite die landdroshof waar beskuldigdes in die moord van Brendin Horner verskyn het. Malema is by hierdie klagte gevoeg aangesien hy teenwoordig was op dié dag en hy was ook voorheen skuldig bevind aan haatspraak vir die sing van die lied Dubul’ibhunu (Skiet die Boer). In hierdie uitspraak het die hof Malema bevel om sy ondersteuners te ontmoedig om hierdie lied of soortgelyke liedere te sing. AfriForum het ook klagtes teen Malema ingedien vir die beweerde besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, besit van onwettige patrone en die afvuur van ’n vuurwapen in 2018 in ’n beboude area sonder om die nodige voorsorg te tref. Hierdie saak word in die streekshof in Oos-Londen aangehoor.

“Ons verwelkom die hof se besluit om nie die verdediging se artikel 174 aansoek om die beskuldigdes vry te spreek toe te staan nie aangesien hierdie saak baie ernstige aanklagte van aanranding op ’n SAPD-kolonel behels. Terselfdertyd is ons bekommerd oor die eienaardige gebeure wat hierdie verhoor van die begin af geteister het. Ons hoop om te sien dat geregtigheid op die einde van die dag sal geskied in hierdie saak. Ons bly ook vasbeslote om te veg vir geregtigheid in die ander sake teen Malema om by te dra tot ’n samelewing vry van haat, rassisme en politieke strafloosheid,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings