|

Waterlek uiteindelik herstel ná Naboomspruit-tak druk toepas

’n Waterlek by die Nyl-pompstasie – wat die plaaslike gemeenskap se krane laat droogloop het – is nou herstel danksy die volgehoue druk van AfriForum se Naboomspruit-tak. Inwoners van Mookgophong was etlike dae sonder water, maar AfriForum het help toesien dat die lek uiteindelik Maandag herstel is.

Dié sukses volg na aanleiding van verskeie skrywes wat die tak aan die munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit gestuur het. Daarin is op die onverwylde herstel van dié waterlekkasie aangedring.

Diensleweringsprobleme in dié munisipaliteit is egter nie net tot Mookgophong beperk nie, verduidelik Hendrik Kotze, AfriForum-distrikskoördineerder van die Waterberg. Die Roedtan- en Thusang-gemeenskappe het by ’n gemeenskapsvergadering wat verlede week (5 Oktober) hier gehou is, ook hul ontevredenheid met die plaaslike munisipaliteit se swak dienslewering laat hoor. Gebrekkige dienslewering ten opsigte van riolering, watervoorsiening en vullisverwydering is van die sake waaroor inwoners hier veral ontstig.

Volgens Kotze is AfriForum se plaaslike strukture gerat om dié kwessies aan te pak en volgehoue druk op die plaaslike munisipaliteit toe te pas om sodoende toe te sien dat die gemeenskap in krisistye ondersteun word.

Raak vandag by die plaaslike AfriForum-tak betrokke. Stuur ’n e-pos na tesourier.naboomspruit@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings