|

#VulDieGat: Benoni-tak takel enorme slaggat wat deur munisipaliteit veroorsaak is

AfriForum se Benoni-tak is vandeesmaand op ’n missie om, nes ander AfriForum-takke landwyd, enorme slaggate te herstel om die agteruitgang van belangrike padinfrastruktuur te keer. Die tak het onlangs 74 sakke teer, wat altesaam 1,8 ton teer is, gebruik om twee groot slaggate – waarvan een deur die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit veroorsaak is – in die Benoni-omgewing te herstel.

’n Reuseslaggat wat oor die breedte van 10de Laan in Northmead strek is op 6 Julie met teer herstel nadat die tak vroeër tydelike herstelwerk daaraan moes doen net sodat die publiek van die pad gebruik kon maak. Die munisipaliteit het in Mei die pad opgegrawe om herstelwerk aan infrastruktuur te doen, maar nooit die pad oorgeteer nie. Ná verskeie vrugtelose versoeke aan die munisipaliteit om die skade te herstel, het die tak op aanvraag van die gemeenskap besluit om self die pad te herstel. Dié pad is nou ten volle herstel.

Die tak het ook ’n gevaarlike slaggat in Oakstraat, wat ’n baie besige pad in die area is, herstel. Dié slaggat het motoriste genoodsaak om aan die ander kant van die pad te ry net om skade aan hul voertuie te voorkom. Hierdie slaggat is nou, tot groot verligting van die inwoners, ook herstel.

“Projekte soos hierdie is ’n bewys dat selfdoen ’n positiewe verskil in ’n gemeenskap kan maak, daarom is AfriForum trots op die toewyding en samewerking van al sy Benoni-lede. Hierdie tak pak nie net die onmiddellike uitdagings van die gemeenskap aan nie, maar streef ook daarna om ’n langtermyn impak op die breër gemeenskap te hê,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder van die Oos-Rand.

AfriForum pak jaarliks ’n nasionale slaggatprojek in Julie aan. Vanjaar wil die burgerregteorganisasie slaggate ter waarde van R1 miljoen oor die land heen herstel. Tot dusver het die AfriForum-takke in die noordstreek, wat die Oos-Rand insluit, R189 270 se slaggate herstel waarvoor altesaam 2 103 sakke teer, oftewel 52,575 ton, gebruik is.

Besoek www.wordlid.co.za of kontak die Benoni-tak direk by 084 976 1234 vir meer inligting oor hoe om by sy projekte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings