|

#VulDieGat: Welkom-tak gebruik 8 ton teer vir slaggate in dorp

Die AfriForum-tak in Welkom het in Julie in samewerking met Handjie Vol 8,7 ton teer gebruik om slaggate in onder meer Davidstraat in Naudeville en Elizabethstraat in Jim Fouchepark te herstel. Die oppervlakte van die slaggate wat gevul is, is 160 vierkante meter.

Hierdie projek is deel van AfriForum se jaarlikse nasionale projek, waartydens die organisasie in Julie poog om slaggate ter waarde van R1 miljoen te herstel. AfriForum-takke in die sentraalstreek, waaronder die Welkom-tak val, het in Julie sover 48,35 ton teer gebruik om 818 vierkante meter se slaggate, oftewel meer as 210 slaggate, teen ’n koste van R171 349 te herstel.

“Die herstel van slaggate is ’n noodsaaklike stap vir die bevordering van verkeersveiligheid en beter verkeersvloei in die dorp. Die projek fokus nie net op die opknapping van bestaande paaie nie, maar ook op die voorkoming van verdere skade aan die infrastruktuur,” sê Jan Jacobs, die projekbestuurder van AfriForum se Welkom-tak.

“Ons vertrou dat hierdie inisiatief ’n verbeterde reiservaring vir alle inwoners en besoekers aan Welkom tot gevolg sal hê,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Vir verdere navrae oor hierdie inisiatief of toekomstige projekte, kontak Ikking by 066 486 7612 of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings