|

Vyf winternagte in ’n tent, rantsoenpakkies en fiksheidsoefeninge

Vyf winternagte in ’n tent, rantsoenpakkies en fiksheidsoefeninge: Só maak AfriForum sy spesialis-buurtwaglede rateltaai in opleiding

AfriForum se twaalfde protopsankursus, waarin gespesialiseerde veiligheidsopleiding aan ’n uitgesoekte groep lede van die organisasie se buurtwagte gebied word, is pas afgehandel. Tydens dié uitdagende vyf dae lange kursus het 16 AfriForum-buurtwaglede van Bronkhorstspruit, Delmas, Germiston, Boksburg, Mbombela (Nelspruit) en Vanderbijlpark te midde van die Hoëveldse winter vyf nagte in tente deurgebring, op rantsoenpakkies (oftewel “ratpacks”) oorleef, hul fiksheid beproef en verskeie opleidingsessies in onder meer selfverdediging en vuurwapenhantering ondergaan. Dit alles om die elite van AfriForum se buurtwagte toe te rus vir die beskerming van hul onderskeie gemeenskappe.

Die kursus het Vrydag ten einde geloop en bring nou die totale aantal AfriForum-protospanlede op meer as 200 te staan. Protospanne tree, as deel van AfriForum se 177 buurt- en plaaswagstrukture, op as gespesialiseerde reaksiespanne. Hoë gehalte opleiding van hierdie lede is derhalwe van kritieke belang. Nagenoeg 11 000 vrywilligers is in hierdie stadium reeds landwyd by AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture betrokke en werk op grondvlak daagliks aktief aan die beveiliging van gemeenskappe.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, ondergaan die uitgesoekte buurtwaglede tydens protospankursusse opleiding in verskeie veiligheidsaspekte, insluitend taktiese vuurwapenhantering, hoe om geboue en voertuie tydens ’n misdaadsituasie te benader, praktiese selfvedediging, bloedingbeheer, regsaspekte en onttrekking onder vuur. Daarbenewens word die fokus ook geplaas op die opstel van voertuigbeheerpunte, insameling van veiligheidsinligting en doeltreffende radiogebruik.

Die 32-jarige onderwyser van AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag, Liam Lewis, is een van die 16 buurtwaglede wat pas sy opleiding as protospanlid suksesvol voltooi het. Lewis meen dat dié “insiggewende kursus” onder meer die belangrikheid van spanwerk binne ’n buurtwag benadruk en die ontwikkeling van suksesvolle spanwerk en bewustheid oor beveiliging bewerkstellig. Lewis beskou voorts sy opleiding as waardevol aangesien hy dié kennis en vaardighede ook in sy werk as onderwyser, waar skole dikwels sagte teikens van onluste is, kan inspan.

Lizel Viljoen (43), ’n buurtwaglid van AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag, wat ook die protospanopleiding ondergaan het, bestempel dié opleiding as “taai, maar lekker”. Sy beveel dit aan vir elke buurtwaglid wat ’n verskil in hul gemeenskap wil maak en benadruk dat veral die selfverdedigings- en skietopleidingsessies haar en haar nuwe medeprotospanlede ’n waardevolle voorsprong in hul taak vir die beveiliging van gemeenskappe sal bied.

“Weens die aard van die werk wat hierdie lede verrig, is dit vir ons uiters belangrik dat hulle goed opgelei is. Dit sal verseker dat hierdie lede hul pligte veilig, doeltreffend en binne die raamwerk van die wet tot voordeel van hul gemeenskappe kan uitvoer,” benadruk Broodryk.

Broodryk het tydens die afsluiting van die afgelope protospanopleiding AfriForum se buurtwaglede bedank vir hul onbaatsugtige opoffering om self verantwoordelikheid vir gemeenskapsveiligheid te neem. “Ons sien daagliks watter enorme verskil ons buurtwaglede in hul onderskeie gemeenskappe maak in die stryd teen misdaad. Juis daarom sal ons voortgaan om hierdie strukture nog verder uit te brei en nog meer lede op te lei,” sluit Broodryk af.

Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike AfriForum-buurtwag. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings