| |

Winterberg-plaaswag kan buurtwagte se hulp nou nóg vinniger ontbied

Diegene wat aan AfriForum se Uitenhage-tak behoort, en staatmaak op sy Winterberg-plaaswag vir beskerming, kan gerus wees in die wete dat dit nou nóg makliker is vir hierdie tak om die hulp van naburige buurtwagte tydens noodgevalle in te roep. Die tak het onlangs ’n nuwe herhaler opgerig om ’n radionetwerk aan sy lede op sowel plase as in die dorp beskikbaar te stel. Dít stel die Winterberg-plaaswag in staat om vinnig met AfriForum se buurtwagte in Kirkwood, Sherwood (Port Elizabeth), Broadwood (Port Elizabeth) en Jeffreysbaai te kommunikeer.

“Die belangrikheid van ’n betroubare alternatiewe kommunikasiebron kan nie genoeg beklemtoon word nie, veral wanneer dit as ’n hulpmiddel gebruik word om misdaad te beveg. Hierdie soort radionetwerke help om veiligheid in gemeenskappe en op plase te verbeter en kan vinnig tydens noodgevalle ingespan word,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Die herhaler help om doeltreffend radioseine oor ’n langafstand, deur die bergagtige landskap, koppies, valleie en dig beboste gebied, te stuur. Dit word boonop deur ’n batterystelsel ondersteun, wat ononderbroke kommunikasie te alle tye verseker.

“Ons moedig die gemeenskap aan om by AfriForum se tak- en veiligheidstrukture aan te sluit om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir almal te help skep,” sê Darius Stumke, leier van AfriForum se Winterberg-plaaswag.

Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum-plaas of -buurtwag aan. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings