AfriForum loods petisie teen beoogde biogas-aanleg in Pretoria-Oos


AfriForum loods tans ‘n petisie teen die beoogde nuwe biogas-aanleg wat die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) wil bou naby aan die woongebiede om en naby Lynnwood-weg.

Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord, sê dat AfriForum nie gekant is teen die bou van ‘n biogas-aanleg nie, veral omdat dit groen-energie genereer. “Ons is egter gekant teen die area wat vir die bou van die aanleg geïdentifiseer is. Dit is ‘n digbewoonde gebied met vele aangrensende residensiële eiendomme. ‘n Aanleg soos dié sal waarskynlik omliggende gebiede van tot en met 3 km beïnvloed,” sê de Klerk.
“Ek wil lede van die gemeenskap aanmoedig om die petisie teen die bou van die biogas-aanleg op AfriForum se webtuiste te teken. AfriForum gaan die getekende petisie saam met ons kommentaar indien om beswaar aan te teken,” sê de Klerk.

Hy vra ook dat mense wat hieroor wil standpunt inneem moet registreer as ‘n geïnteresseerde en geaffekteerde party by CHAND-omgewingskonsultante deur ‘n e-pos te stuur aan info@chand.co.za en so ook by www.no2biogas.org.za.
AfriForum doen ‘n beroep op die verskeie gemeenskappe in die Tshwane Metropool om by hulle plaaslike AfriForum-takke betrokke te raak en aktief deel te neem aan tak-aktiwiteite. Vir meer inligting hieroor stuur ‘n e-pos na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings