|

AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein beveg drie brande in een dag

Die AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein het op Woensdag 6 Julie op drie verskillende plekke gehelp om brande te blus of onder beheer te bring.

Die eerste brand is net ná 14:00 in Bergstraat gerapporteer. Die wind het sterk gewaai en die veldbrand het vinnig na die SAVF Evanna Tehuis vir Bejaardes versprei. Die buurtwag het met behulp van die tehuis se personeel en mense wat in die omgewing van die tehuis woon verhoed dat die brand enige skade op die perseel van die tehuis aanrig. Die brand is onder beheer gebring en die buurtwag het ook voorbrande langs die tehuis gemaak om te verhoed dat veldbrande in die toekoms nie tot by die tehuis versprei nie.

Laatmiddag het ’n veldbrand op ’n plaas op die Ottosdalpad ontstaan en die wind het die veldbrand aangejaag. Verskeie boere uit die omgewing was reeds besig met pogings om die brand onder beheer te bring en die buurtwag het hulle brandbestrydingswaterkar en slaansakke ingespan om te help. Die buurtwag het ook gehelp om die verkeer te reguleer aangesien die swaar rook padgebruikers se sig belemmer het.

Die brand op die Ottosdalpad was skaars onder beheer toe verskeie kleiner veldbrande aan op die Geduldpad aan die ander kant van die dorp aangemeld is. Hoewel die wind teen daardie tyd bedaar het, het die brande reeds wyd versprei. Die buurtwag het weer hul toerusting ingespan om die brande te bestry. Die brande is uiteindelik teen 21:30 geblus.

“Ons is dankbaar dat geen geboue of skade gely het nie en dat almal ongedeerd is. Ons wil graag almal wat betrokke was en ingespring het om te help bedank,” sê Theresa Swart, steunspanleier by AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag.

“Mens is baie dankbaar dat daar geen lewensverlies of verlies aan geboue was nie. Ek is bly hierdie span kon die gemeenskap ook op hierdie wyse bystaan. Ek maan ook die gemeenskap om die nodige voorbrande te maak en bedag te wees op brandstigters,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings